Tuesday, November 11, 2014

Die "Stand Off"


Die “Stand Off”

 

Dit was een van daardie warm dae waar die stof nie gaan lê nie en die hitte gemeng met die stof nie eens met ʼn whisky uit jou keel gewas kan word nie. Die sweet loop uit jou hele liggaam en word deur die materiaal van jou klere geabsorbeer. Die rooi stof slaan dan ook dadelik op die nat kol op jou klere neer en dra by tot die ongemak van die dag. Selfs die bier is louwarm maar die kliënte kla nie. Dit is minstens nat.

 

Die atmosfeer in die dorp is gelaai. Almal is bewus van die spanning wat daar heers. Iemand gaan val. In die straat voor die plaaslike kroeg staan die twee stil figure. Hul hoedens laag oor hul oë getrek om die glans van die middagson af te weer. Albei se mantels is reeds oop geknoop. Niks mag hul reaksie spoed belemmer nie. Hierdie gaan ʼn “quick kill” wees. Selfs die plaaslike lyksbesorger staan met sy lang bleek gesig in stille afwagting. Vir hom beteken dit besigheid. Iets wat maar skaars is.

 

Die lang wyster op die klok in die kerktoring gaan enige oomblik aanbeweeg. Dan sal die klok slaan. Dit sal die teken wees. As jy fyn luister hoor jy die uurwerk begin draai sekondes voor die klok slaan. Die een figuur aan die onderpunt van die straat beweeg sy vingers, oorgehaal, gereed. Die ander persoon staan nader aan die kerk gebou. Hy hoor die draai van die ratte in die uurwerk. Die klok gaan nou slaan. Soos die pik van ʼn vasgekeerde geelslang beweeg hy. Sy hande spring asof outomaties vorentoe. Sy vingers strek...

 

Met sy linkerhand gryp hy die slimfoon uit sy sak, die vingers van sy regterhand skiet uit. Hy slaan die knoppies van sy touch screen akkuraat, sonder huiwering. Binne sekondes is sy facebook “update” opgestel. Hy druk die “send” knoppie en sy “status”word erens in cyberspace opdateer.

 

Alles is oor – die “update” is nou gedoen. Die stilte verbreek. Die hele dorp slaag ʼn hoorbare sig van verligting. Stemme klink in die kroeg op. Die lykbesorger stap oor na die gevalle held aan die onder punt van die straat. Die man aan die bo punt skuif sy hoed terug uit sy oë, kyk vir oulaas na sy gevalle opponent. Met ʼn klein ruk beweging van sy kop skuif hy die voorval uit sy gedagtes. Stadig draai hy om en stap weg. Sy voete slof klein stofwolkies uit die grondpad. Nog ʼn situasie afgehandel, nog ʼn stukkie nuttelose informasie is gedeel.

 

Net die lyksbesorger is bewus dat die opponent ʼn dame was. Stil lê sy daar in die stof. Sy was dapper, maar te stadig. Die “update” is toe nie eerste deur haar gestuur nie. 

 

“Cyberspace” sal nooit weer dieselfde wees nie.

 

 

Deur: Karoo Griffel