Friday, January 30, 2015

Haar "Geloof"


Haar “Geloof”

 

Deur Karoo Griffel

Tanya sit voor die tv na die laat aand nuus en kyk. Natuurrampe, moorde en  roof.  Dieremis-handeling. Klein dogtertjie deur twee volwasse mans verkrag.  Haar aandag dwaal weg van die TV af. Sy kan net nie gewoond raak aan al die seer in die wêreld nie.

Onwillekeurig kom die vraag weer by haar op: waar is ons "God van liefde" in die situasies? Hoekom laat hy dit toe?
 
Die een gedagte gaan oor in die ander en soos altyd sit sy weer met die vraag binne haar: wat is die waarheid? Sy dink aan wat die filosoof, Kahlil Gibran eeue terug geskryf het:  "Many a doctrine is like a window pane. We see truth through it, but it divides us from truth".  

Is daar 'n God, en as daar is, waar is hy in die tye? Sy het in 'n christen huis groot geword. Tog is daar so baie wat sy bevraagteken. Darem nooit hardop nie. Sy weet nie wat haar vriende of haar selgroep by die kerk sal sê as hulle moet weet van haar vertwyfelings nie. 

As sy egter met haarself moet eerlik wees, dan is haar geloof eerder op vrees gebasseer as op ware geloof.  Omdat die ander kant van die munt haar bang maak.  Sê nou dit wat sy dink as sy begin twyfel, is waar en dit wat die kerk en die dominee haar geleer het is als net 'n verdigsel. Skrywes van mense aangesê deur die Roomse Katolieke kerk van ouds om beheer oor die massas te verkry. Iets om oor hul koppe te hou en hulle tot orde te dwing. Ja, dan sou sy haar lewe soos 'n donkie geleef het, en als maar net slaafs nagevolg het. Maar, redeneer sy,  dan het sy minstens goed geleef en niks in die proses verloor nie.

 Aan die ander kant, as dit als waar is - regtig deur God geïnspireer is en deur Sy leiding aan die mens gegee is - dan het sy verskriklik baie om te verloor indien sy nie glo nie - sy sal in die hel beland. Daarom verkies sy om te glo. Die potensiële voordeel van “glo” is beter as die nadeel van “glo”. Sê nou dit is als waar…  Dit is net vir haar swaar. So baie wat in die wêreld gebeur, laat haar wonder waar God dan is.

Tog weet sy, as dit waar is, dan is sy klaar in die sop. Want dan glo sy uit vrees en nie in ware geloof nie. Sy weet net, dit is nie geloof of die Bybel wat haar leefstyl en normes voorskryf nie.  In teendeel, sy ken die reëls en wette van die mees bekendste gelowe en die basis daarvan stem eintlik baie ooreen. Sy het ook baie kennis van bhudisme, en ook hulle het duisende jare voor die Bybel geskryf is, al voorgestel dat ons as mens goed moet leef. Respek vir mekaar, vir die natuur en vir ons self - amper alle gelowe stel dit voor.  Eindelik is dit ook  maar net gesonde verstand. As almal dit maar net wou besef en navolg sou daar nooit sulke verskriklike nuus berigte soos vannaand gewees het nie. Sy weet ook dat sonder wette en reëlsou die  beskawing nooit bestaan het nie. Dit is dus nie geloof wat dit in haar inwortel nie, maar basiese "mens"wees.

Tanya besluit om te gaan slaap. Daar is tog niks op TV nie, en as sy eers oor die geloof en die bestaan van God begin nadink, dan loop haar verstand wye draaie met haar, en sy weet: sy is nie braaf genoeg om hardop aan ander te beken hoe sy oor dit alles voel nie. Sy kan dit dan
nie eens aan haarself erken nie"

Monday, January 19, 2015

Nuwe begin


Nuwe begin
Deur Karoo Griffel

Die groot 15 duim bande van die Chev kreun soos dit oor die grondpad rol. Teen sestig myl per uur maak die motor egalige wieg bewegins wanneer dit deur knikke en laagtes in die pad beweeg. Dit is nog 75 myl tot op Sutherland en die somer Karoo-son bak met al sy geweld op die motor dak. Daar is ‘n stofspoor agter die motor vir so ver as jy kan sien. Die twee insittendes in die motor praat nie ‘n woord met mekaar nie. Dit is te warm en elkeen broei op sy eie gedagtes.  Annete  wou al ‘n paar maal iets sê net om die stilte te verbreek, maar elke slag as sy na Barend se gesig kyk, weet sy dit sal beter wees om nie die stilte te verbreek nie.

Skielik is daar ‘n harde slag. Die motor begin gevaarlik oor die pad swaai. Gelukkig is Barend ‘n ervare grondpad bestuurder en bring hy die voertuig onder beheer. Hy trek af en stop. “Verdomp”,sê hy toe hy die masjien afskakel en uitklim. Anette klim ook uit. Verdomp, sê hy weer toe hy sien dat die motor ‘n agterband gebars het.

 Sonder om te praat stap hy na die kattebak en maak dit oop. Hy tel haar twee tasse uit en toe sy eie  sak. Anette kan op sy gesig sien wat hy van die “twee”tasse dink. Hy kla altyd dat sy te veel pak. Hy gooi die spaarwiel langs die motor neer en buk weer in die kattebak in om by die domkrag en ander gereedskap uit te kom. Die omruil van die wiel neem amper vyftien minute. Die wiel wat hy afhaal is amper tot op die seil afgeloop.  Die gedagte dat dit sy skuld is dat die band dit nie gemaak het nie hang onuitgesproke tussen hulle. Barend gooi als terug in die motor sonder om die stukkende wiel onder die deksel in sy spasie in te sit.

 Toe hy die kattebak wil toemaak kan dit nie. Haar een tas steek te hoog uit met die ekstra spasie wat nou deur die wiel in beslag geneem word. Barend  ruk die tas uit en gooi dit op die agter sitplek neer. Hy klap die kattebak toe en gaan klim in die motor. Anette het skaars haar deur toe, toe vlieg die motor weer  vorentoe.  Sy weet hy blameer nou haar inpakkery en die twee tasse vir die feit dat die kattebak nie wou toe nie. Nou is hulle mos weer gelyk:  hy het die band te ver laat afloop en sy het te veel gepak.   Nou is dit een elk.  Als moet altyd in ‘n argument omskep word. Sy weet hy sal rede soek om haar voor te blameer net om weer gelyk te kom.  Dit gaan al sestien jaar so. Elke liewe dag.

So ook  vanoggend toe hulle uit die Kaap weg is.  Sy ouers het hom gesmeek om die naweek te kom kuier. Hy het dit teen sy sin gedoen omdat hy eerder soos gewoonlik net weer by die huis wou sit en drink. So, hy was kwaad omdat hy besluit het om te gaan, en hy wou dit op Anette uithaal.  Sy eerste argument het hy begin omdat sy niks vir padkos ingepak het nie.  Toe sy hom daarop wys dat hy in alle geval nooit stop vir so iets nie, het hy die argument verder gevoer en haar beskuldig dat hy nie stop nie omdat sy.. .   Anette het geweet dat dit nou beter is om stil te bly. Maak nie saak wat sy sê nie, hy sal dit so draai dat sy weer die  verkeerde een  is.

Net voor Sutherland sien Anette ‘n plaasnaambord.  Die naam daarop is “NUWE BEGIN”.  Sy begin dink aan haar jonger jare. Sy en Barend was maar een en twintig toe hulle getroud is. Sy het ophou uitgaan, maar hy nie. Elke middag na werk was daar vriende wat hom saam nooi. Elke aand laat terug gekom. Hul verhouding het vining agteruit gegaan. Argumente in plaas van gesprekke. Altyd kwaad. Alewige beskuldigings. Sy besef dat die lewe by haar verby gaan. Sy is nou ses en dertig. Sien sy kans vir nog twintig of dertig jaar van die lewe  wat sy nou het?

Toe hulle die dorp inry vra sy vir Barend om asseblief by die hotel te stop. Dat sy haar kan reg maak voor hulle by sy ouers aankom. Barend sê niks, maar stop tog. Hy stap reguit na die kroeg en beveel  haar om hom te kom roep as sy reg is. Anette stap  na die gaste badkamer van die hotel. Sy was haar gesig en maak haar hare agter in haar nek vas.  Sy sit vir haar bloed rooi lipstiffie aan en bekyk haarself in die vollengte spiel. Haar jeans pas haar nog goed en sy is heel tevrede met wat sy daar sien.  Toe vat sy haar handsak en stap na die ontvangs waar sy die klerk vra of daar iemand is wat haar na die treinstasie te Matjiesfontein kan neem. Dit is haar nuwe begin.