Sunday, March 1, 2015

Die oomblik wat jou definieer

Die man wat voor hom staan is ‘n klein bietjie korter as Frans, maar beslis jonger - iets in sy vroeg dertigs.  Breed geskouer, seker ‘n sportman of iemand wat gereeld fisiese arbeid verrig.  Frans neem egter niks daarvan waar nie.  Hy kyk die man stip in die oë.  Sy bloed kook in sy are en die adrenalien laat hom liggies bewe.  Hy is gereed om enige oomblik tot aksie oor te gaan.  Die man glimlag effe – nie vriendelik nie, eerder spottend .  Hy staan platvoet en uitdagend met sy hande langs sy sye:  “kom, wil jy iets daaraan doen?”

Dit het nie sommer gebeur nie.  Dit het stadig opgebou.  Arogante mense sonder respek.  Eers was dit ver, het jy net in die koerante gelees van plaasmoorde bo in die Transvaal.  Huis inbrake waar mense nie net besteel is nie, maar ook aangerand en ernstig beseer word.  Of erger ...  Almal sê altyd: “as dit hier gebeur…” of “as dit met my mense gebeur…”  Toe skuif dit nader .  ‘n Paar maande gelede is iemand op die buurdorp op sy plaas vermoor en beroof.  Dit is nou hier, by ons,  ons mense.  Net laas Sondag het ‘n dronk bestuurder ‘n ou oom in ons eie dorp gewelddadig doodgery.  Die Maandag was hy weer op straat – tot sy verhoor.  Mans wat in ons dorp in groepies van vier op die sypadjie aangestap kom en vrouens dwing om in die sraat te  loop om verby te kom – en altyd die uitlag, net sodat almal kan sien hoe hulle dit geniet.  Die uittarting wat maar altyd daar is.

Frans probeer altyd konflik vermy.  Dit is ‘n deel van sy lewe wat hy agter hom gelaat het.  Hy is soos almal van daardie tyd op sewentien weermag toe.  Basiese opleiding ontvang, toe die offisierskursus by Oudtshoorn gedoen.  Daarna spesiale opleiding ontvang.  Hy het geleer waar die “vital points” aan die menslike liggaam geleë is en hoe om dit tot sy voordeel aan te wend.  Op agtien was hy ‘n luitenant in die weermag, opgelei om  oorlog te voer en mense dood te maak.  Na sy diensplig het hy soos die meeste jong mans hard prober inhaal op die jare wat hy verloor het.  Die stukkie kind-wees en onverantwoordelik mag optree wat van hom weg gevat is.  Hard gekuier en hard gespeel.   Daar was insidente wat hy liewer nie wil onthou nie - gelukkig nooit iets ernstig nie. Later in sy lewe het hy by die dinge verby gegroei.  Het hy besef dat met ‘n sagte woord kan jy situasies ontlont.  Dat om weg te stap nie die optrede van n sussie is nie maar dié van ‘n  man.

Hierdie was egter die vierde situasie van die dag.  Dit het begin by die ander motor wat voor hom oor die vierrigting stop gejaag het sonder om te kyk of ag te slaan.  Dit het amper in n ongeluk uitgedraai. Toe die man by die vulstasie wat hom vyf minute laat wag het terwyl hy met vriende staan en gesels het. Nou net op pad na die winkel het ‘n vragmotor sommer in die middel  van die pad gestop om goed af te laai – net daar gestop en die verkeer so ontwrig dat dit ook amper ‘n ongeluk afgegee het.  Al drie insidente ‘n duidelike vertoon van geen respek, van “ons sal julle wys”.

En toe nou in die winkel.  Frans staan agter ‘n vrou wat besig is om te betaal.  Hy het ses items in sy mandjie.  Die volgende oomblik stap die man tussen hom en die vrou in, wel net met ‘n brood in die hand, maar hy beskou dit sy reg om in te druk.  Hy gaan staan net.  “Ekskuus, jy het so pas ingedruk.  Dit is nie goeie maniere nie en onaanvaarbaar. Gaan staan in die ry soos ons almal.”  Die man sit sy brood op die toonbank neer en draai om – op sy mond die glimlag wat sê: “en wat daarvan? Kom, wil jy iets daaraan doen?”

 
Soos Frans daar staan, sonder om sy oë te skuif, neem hy al die “vital point” waar. Weet  hy presies wat om te doen om die man binne twee sekondes op sy  knieë te hê terwyl hy sal hyg na suurstof maar nie daarvan bewus sal wees nie omdat die pyn hom amper waansinnig sal hê.  Die vinnige reguit hou wat hom op die adamsappel tref, hard genoeg om dit te breek, en sy keel, wat ook die lugweg is, wat toeswel.  Dan die vinnige “twee-bakhand-slag” , met beide hande gelyk en baie hard op die ore. Die aksie laat ‘n oordrom, of miskien altwee, bars.  Die man verloor alle balans en sak vooroor.  Dan die oomblik as hy begin sak, tref ‘n knie hom op die voortande, half onder die neus in.  Dit is meer ‘n opwaartse beweging.  Die perfekte uitvoering van die hou  breek die neusbeen, die deel van die skedel  (ook toevallig een van die swakste dele in die ontwerp van die skedel ) presies tussen die oë waar die neusbeen geheg is, met soveel geweld dat die been binne toe skuif en as dit reg en hard genoeg gedoen word, dryf die hou die been direk in jou brein op.  Twee uitkomste:  dood of die aller verskriklikste pyn. Dit als gebeur in twee sekondes.  Die man sal nooit weer so optree nie.

“Ekskuus, is hier ‘n probleem?” Dit is die vloerbestuurder, ‘n jong dame wat agter Frans praat.  Sy het gesien wat die man gedoen het, en op die regte oomblik ingetree.  Frans skrik toe hy besef wat so pas deur hom gegaan het.  Wat die man hom amper maak doen het. “Nee” , sê hy, “die man het net n brood om te betaal.  Ek moet juis miskien nie oorhaastag wees nie.”  Toe die meisie glimlag en verder stap, roep Frans haar terug: ”verskoon tog, juffrou!  Dankie, baie dankie”. Hy weet sy weet nie waarvoor hy dankie sê nie, maar hy weet dat sy hom weerhou het van iets wat hy vir ewig sou berou.    

No comments:

Post a Comment