Friday, March 27, 2015

Die skrywer van Carnavon


Die skrywer van Carnavon

Deur:   Karoo Griffel

Die wind waai die swaar reën in vlae teen  die ruite vas.  In die binnekant van die vensterbank vorm ‘n poeletjie  van reënwater wat deur die sterk wind deur die skrefie in die staalraam gedryf word.  Die lig van die kers weerkaats geel in die poeletjie.  Hier waar Albert by sy skryftafel voor die venster sit, kyk hy deur sy eie spieelbeeld wat vanuit die venster vir hom terug kyk.  Sy gedagtes loop ver paaie.  In sy hand het hy ‘n brief van die uitgewers.

Hy en Adel het so baie gewaag;  so baie opgeoffer en so baie vir ander gedoen.  Dinge kon so anders uitgedraai het.  Eers was dit al hul spaargeld.  Hy het elke sent daarvan aan sy broer geleen toe dié in die nood was.  Sy broer sou dit terug betaal sodra dit beter gegaan het.  Blykbaar gaan dit nog nie beter nie en Albert dink nie hy sal die geld weer sien nie.

Toe het sy werk met afleggings gekom.  Albert was nie een van die ongelukkiges nie, maar om ander dit te spaar het hy homself voorgestel.  Hy het gevra vir ‘n pakket.  Hy het gehoop om met die skeidingspakket se geld ‘n nuwe begin te maak.  Toe die papierwerk deurkom het die firma gesê daar is nie geld nie.  Almal het slegs hul pensieoen geld en so paar sent ekstra ontvang.

Hulle het hul huis in die stad verkoop en daarmee saam alle onnodige goed soos meubels en die “tweede” motor.  Hiermee,tesame met  die pensioengeld is hulle in hul ou isuzu bakkie uit die stad uit weg:  Carnavon toe.  Die klein Karoo dorpie het hul beide baie aangestaan.  Eiendom was relatief goedkoop en hulle het ‘n ou huis met groot stoep gekoop.  Hulle het net die nodigste meubels daar ingesit en al hul skilderye is opgehang.  Hulle het besluit om eenvoudig te leef en min aardse goed bymekaar te maak.  Minimalisties  was die woord wat hulle gebruik het.

Albert wou nog altyd skryf, en Adel het haar groentetuin begin.  Hulle het baie spaarsamig geleef.  Die bietjie geld moes so lank as moontlik hou.  Albert het baie nagte by hierdie einste tafel sit en skryf.  Die woorde het uit sy inkpen oor die bladsye geloop.  Die eerste paar probeerslae het hy sommer self na so klompie hoofstukke weg gegooi.  Nie goed genoeg nie.  Niemand sou dit publiseer nie.  Toe het dinge verbeter.  Hy het oor die laaste twee jaar drie boeke geskryf wat hy aan uitgewers gestuur het.  Elke slag het dit terug gekom.  Daar was altyd goeie kritiek, maar dit het hom nie beter laat voel nie.  Dit het vir hom gevoel asof hy niks bereik nie en die neseier het vining begin krimp.

Nooit, nie in een van sy besluite wat hy gemaak het, het Adel hom teengegaan nie.  Sy het nooit gevra “hoekom” nie.  Sy het hom deur als vertrou en hom bygestaan.  Hulle het geen kinders nie en dus was dit gelukkig net hulle twee wat saam-saam die swaarkry moes leef.  Hoewel geld min was, was hul lewens vol.  Hulle het meer tyd vir mekaar gehad, meer gesels en mekaar beter as ooit verstaan.  Hul verhouding het baie gegroei.  Hulle hand was ook nooit toe vir ander nie.  Hy het altyd geweet, om aan ander goed te kan doen was ‘n voorreg.  Minstens was dit ‘n teken dat hulle darem nog iets oor gehad het om te kan gee.  Dit was soos die liggie van hoop in hul tonnel.

Hy dink weer aan die baie aande wat hy die afgelope twee jaar hier sit en skryf het.  Aan die drome en hoe hy gehoop het dat hy iets uit sy pen sou laat vloei wat deur ‘n uitgewer aangegryp sou word.  Iets wat iemand sou wou publiseer.

Na die derde boek terug gekom het, het hy besluit om eers ‘n breuk te vat.  Miskien eers iets anders te doen en intussen notas te maak vir ‘n volgende boek.  Hy wou net bietjie rus.  Toe begin hy met kortverhale.  Dit het so lekker en maklik gekom.  Binne ses maande het hy twee en dertig gehad.  Al moet hy dit nou self beken, hy het  van almal van hulle gehou.  Toe maak Adel die voorstel:  “Stuur dit vir die uitgewer as ‘n bundel  kortverhale”. 

Hy het.  Dit was twee maande gelede.  Toe vandag kom die brief saam met die swaar Karoo-reën hier aan.  Net soos die reën het die brief ook groot verligting gebring in ‘n tyd van droogte.  Die bundel gaan uitgegee word.  Daar word van baie goeie geld gepraat en die uitgewer vra hom om meer kortverhale te skryf.
In die weerkaatsing sien Albert ‘n beweging.  Dit is Adel wat agter hom op die bed lê.  Sy het omgedraai.  Die reën het opgehou.  Hy weet sommer dat môre ‘n mooi dag sal wees.  Alles sal skoon gewas wees. Die son sal helder skyn en die Karoo-lig sal blouer wees en hul toekoms sal blinker wees.

No comments:

Post a Comment