Thursday, April 2, 2015

Liefde by Warmquelle


Liefde by Warmquelle

Deur:  Karooogriffel

Haar oë is amper die kleur van die water, blou groen.  Die water is glashelder.  Mens kan selfs op die diepste kol, tot reg onder op die sandbodem sien.  Die water is louwarm.  Dit is as gevolg van die warmbron waaruit die ondergrondse water borrel.  Dit is dan ook die rede vir die kleur van die water.  Die ander inloop kom uit die fontein wat aan die ander kant van die poel uit die rots borrel. Hierdie is heerlike koel water.  Helder en absoluut kleurloos.  Die warm water het so diep blou groen kleur wat eie is aan mineraalwater uit ‘n warmbron.  Die vermenging van die twee waterbronne is nie slegs die rede vir die ongelooflike lekker, amper perfekte temperatuur nie, maar ook vir die kleur van die water.  Warmquelle lê net anderkant Palmwag in Namibië.

Sandra en Neil is al amper een week in Namibië.  Hulle het so soort van op die ingewing van die oomblik op die wegbreek besluit.  Sandra het onlangs van ‘n  werksreis teruggekeer.  Haar paspoort was dus sommer onlangs eers uitgereik en Neil reis gereeld na Namibië en ander buurlande.  Dit was juis na haar werk reis dat sy besluit het dat haar huwelik met Johan, haar man vir die laaste sewe jaar, nie kan werk nie.  Dit was in Griekeland  wat sy besef het hoe hy haar vashou.  Haar lewe inperk en sy nie haar eie lewe geleef kry nie.  Dat sy maar net Johan se vrou is.  Vir hom moet leef en na sy behoeftes moet omsien.  Dat haar eie siel in die proses dood gegaan het.  In Griekeland het sy gesien hoe haar kollegas, en hul gasheer kollegas leef.  Die lewe omhels en voluit vir als gaan.  Sy was aanvanklik bang.  Tot sy besluit het sy moet ook iets meer uit die lewe haal voor sy oud is.  Voor haar jong lewe by haar verbygaan.

Sandra en Neil was so ‘n jaar terug amper in ‘n verhouding gewees.  Hulle was sielsgenote.  Nee, meer as dit.  Hulle het mekaar verstaan en het behae in mekaar se geselskap en nabyheid gevind. Neil die vry siel.  Die ongebonde mens wat kom en gaan soos hy wil.  Wat sy lewe maak uit skryf werk en fotografie.  Hy is permanent met vakansie.  Reis die kontinent plat en neem foto’s wat hy aan tydskrifte en ander kliente verkoop.  Gereeld word een van sy kortverhale gepubliseer en met die geld pak hy dan weer sy volgende avontuur aan.  Hy bly alleen in sy groot ou huis op die dorp, wat as sy basis dien.  Hy kom en gaan  amper ongesiens.  Hulle het ook maar so ontmoet.  Nie een van hulle kan onthou presies waar of wanneer nie.  Hulle het ook nie op die eerste ontmoeting regtig met mekaar gesels nie.  Hulle het mekaar so ‘n paar maal by verskillende geleenthede gesien en ‘n woord hier en daar gewissel.


Die regte kennismaking het in ‘n koffie winkel op die dorp gebeur.  Hy het alleen by die hoek tafel gesit.  Naby die kaggel.  Dit was een van die min regtig koue en nat dae wat hulle ooit in die Karoo dorp beleef.  Toe sy inkom, was sy sommer vies omdat al die tafels naby die kaggel gevat was.  Toe sien sy hom alleen by sy groot tafel sit.  Besig met ‘n fotografie tydskrif. Sy het dadelik nader gestap en gevra of dit onbeskof sal wees as sy die tafel met hom deel.  “Ek sal nie pla nie”, het sy gesê.  “Ek het net lus vir so paar oomblikke se stilte en alleen wees, naby die gesellige vuurtjie” . “Sit gerus”, so sonder om regtig op te kyk of te groet.  Sy kan goed onthou dat sy gedink het hy is nogal onbeskof. Hy het rustig verder in sy tydskrif gelees en sy groot beker koffie gedrink.  Sy het ook koffie bestel en sommer vir die vuur sit en kyk.  Dit was nadat haar koffie al op was en die koppie koud, dat hy weer gepraat het.  “Nog een?”  Sandra het amper geskrik.  Sy was diep ingedagte en het amper van hom oorkant haar vergeet.  “Skies?”  het sy gevra.  Nie omdat sy nie gehoor het nie, maar eerder omdat sy wou herstel.  “ Wil jy nog koffie hê, ek gaan nog een drink” .  “Dit sal lekker wees”, antwoord sy. Nou was haar aandag terug by die tafel en by hom.  Sy het besef dat hy lankal sy tydskrif klaar gelees het en haar sit en dophou het.  “Wat lees ek in daai blou oë” , het hy sommer so gevra.   ”Ek kan sien dat jy diep dink en dat jy, as ek dit mag sê, hartseer lyk” .  ”Wat is fout?”  Net so, sonder om doekies om te draai het hy haar uitgevra en sonder om na te dink het sy hom begin vertel.  Van haar lewe wat te vinnig van jong meisie na getroude vrou verander het.  Van die ondervindings wat sy nooit beleef het nie.  Van mense wat sy nie ken nie en vriende wat sy nooit gemaak het nie.   Van haar bestaan wat voel soos ‘n hok.  ‘n Hok met te veel reëls van moets en moenies.  Hy het stil na haar sit en luister, sonder om haar te onderbreek en hoe langer sy gepraat het hoe meer het sy vertel.  Neil kon sien dat sy soos ‘n voëltjie in ‘n kou was wat graag wou weet hoe die lewe anderkant die deurtjie lyk en voel.  Dat as die deurtjie oopgestaan het, sy beslis sou uitvlieg.  Maar heelwaarskynlik elke aand weer sou terug vlieg na die bekendheid en veiligheid van die hokkie en sy mense.  Hy kon egter sien dat die deurtjie nie gaan oop kom nie en dat sy altyd met hartseer oë na buite sou sit en kyk.

 Toe sy uiteindelik klaar was het hy weer koffie bestel.  Vir haar ook.  Hy het die stoel langs hom nader aan die hitte van die vuur uitgetrek en haar genooi om nader te kom sit.  Sy het dit aanvaar.  ”Kyk hoe simpel was ek nou, om my hele lewe aan jou uit te blaker en jou met my stories te verveel”.   Neil het nie daarop reageer nie, maar haar van sy mees onlangse reis na Kenya vertel.  Van die mense, hoe hulle leef, hulle gebruike en als wat eie aan hulle is.  Sy het hom honger begin uitvra.  Oopmond sit en luister na die wêreld wat sy glad nie ken nie.  Hom uitgevra oor sy lewe, sy skryfwerk en hoe hy die “road trips” ervaar.  Neil kon sien sy smag na iets anders as haar nege tot vyf bestaan, die huiswerk, kook en opwas en dan more weer dieselfde.  Hy het op sy rustige manier vertel.  En soos hy gepraat het hulle meer en meer van mekaar ontdek.  Sy uit die vertellings en hy uit dit wat sy nie gesê het nie.  Toe hulle weer sien was dit amper ses uur en sy het vinnig verskoning gemaak, hom vir die koffie bedank en vertrek.


Die volgende week het hulle mekaar weer daar raakgeloop.  Dit het amper soos ‘n gereelde afspraak gevoel.  Sy het mooi gelyk, amper asof sy spesiaal aangetrek het vir die ontmoeting.  Sy was mooi gebou en haar lang blonde hare het gemaklik in haar nek gehang.  Neil was maar weer in ‘n jean, T- hemp en sy warm baadjie.  Nou dat sy daaroor nadink, dit is maar hoe sy hom nog altyd gesien het. Plat op die aarde, gemaklik aangetrek en hy ry altyd op sy rustige manier deur die dorp met sy groot 4x4.  Sy het met ‘n groot glimlag nader gekom.  “Kyk waar kry ek jou weer”, het sy gesê en sommer dadelik langs hom kom sit.  Die gesels het maklik gekom, amper asof hulle net aan gegaan het waar hulle laas opgehou het.  Neil was intens bewus daarvan dat sy mooi was.  Dat sy met oorgawe na hom sit en luister het en dat hulle uiters gemaklik in mekaar se geselskap was.  Neil is ‘n geweldige ekstrovert, en kort-kort sou hy aan haar hand, arm of selfs knie raak.  Sy het dit heel gemaklik aanvaar en hulle het lekker sit en gesels.  Weer het die kuier te gou ten einde geloop.  Dié keer het hulle egter so amper terloops besluit om later die week weer vir koffie te ontmoet.  Daarna het die kuiers meer gereeld en meer dikwels geword.  Nooit was hulle ongemaklik gewees nie en die gesels het meer intiem geraak.  Die aanraking ook.  Voor Neil besef het wat aangaan, was hy verlief op Sandra, en kon hy sien, sy ook op hom.  Skielik het hul gesprekke ernstiger en meer persoonlik geraak.  Hoewel hulle dit nooit teenoor mekaar beken het nie, was beide intens bewus van die liefde tussen hulle.  Ook van hoe verkeerd dit was.  Sandra was getroud.


Eendag pas nadat hulle weer so ontmoet het, het haar man, Johan die koffiewinkel binne gestap. Reg op hulle af.  “Is dit waar my mooi vrou deesdae haar tyd verwyl” , het hy gevra, en hom by hulle aangesluit.  Hoewel hy dit in ligte luim gevra het, kon Neil sien dat hy dit met ‘n ernstige kyk in Sandra se rigting gedoen het.  Dit was die einde van hul saam kuier.  Sandra het hom die volgende dag geskakel en vertel dat Johan haar van dinge beskuldig en ook aangesê het dat sy hom nie weer mag sien nie.  “Wat wil jy hê?”, het Neil haar gevra.  “Ek wil nie moeilikheid hê nie”, was haar antwoord.  Sy het die telefoon neergesit en dit was op ‘n manier die einde van hul vriendskap.
 

Dit was maande later dat sy saam met kollegas in Griekeland,  vir werk was.  Daar het haar oë oopgegaan vir haar eie bestaan.  Met haar terugkeer, het sy Neil weer gaan opsoek.  Hom vertel hoe haar bestaan saam met Johan haar dood wurg en hoe sy nou weet sy moet uit die huwelik uitkom. Sy en Johan het ‘n lang gesprek gehad en sy het hom gevra of sy vir ‘n rukkie kan weggaan om haar kop reg te kry en haar besluite uit te sorteer.  Hy het ingestem, maar haar laat verstaan dat hy nie noodwendig daar sal wees as sy terug gekruip kom nie.  Neil het weer sit en luister tot sy klaar was en haar toe vertel van sy volgende reis na Namibië, en meer spesifiek, Warmquelle.  Hy het haar vertel hoe dit daar lyk en dat daar niks is nie en dat dit myle van enige behoorlik dorpie af is.  Ook van die warm swemplek, die water, die sterre en die stilte.  “Kan ek saamkom?” , het sy gevra.  “Ek sal nie in jou pad wees nie, ek het nou so omgewing nodig en ek sal help in die kamp”.  Neil het nie eens geantwoord nie.  Hy het net gesê dat sy moet regmaak, hy ry oor twee dae .

 Hulle is die oggend vroeg weg, en het die aand net oor die grens teen die Oranjerivier geslaap. Sommer net in hul slaapsakke langs die vuur.  Beide was moeg gery en het vroeg aan die slaap geraak.  Die volgende dag het hulle gery tot in Ais-Ais en die derde dag tot by Sesriem.  Daar het hulle ‘n paar dae oorgestaan en lekker uitgerus.  Tot laat die aand langs die vuur gesit.  Hulle het mekaar vinnig weer gevind, en die ou kameraderie was weer terug in hul verhouding.  Saans het hulle styf langs mekaar, maar elk in sy eie slaapsak, ingekruip en lekker geslaap.


Toe hulle by Warmquelle aankom, het hulle ‘n meer permanente kamp ingerig.  Neil wou hier aan sy volgende verhaal werk.  Toe hulle klaar kamp opgeslaan het, is hulle na die swemplek waar hulle die stof en die moeg van hul lywe gaan afspoel het.  Sandra was in ekstase oor die plek, die water en die afgesonderdheid van die plek.  Hulle was alleen daar, net soos Neil dit verkies as hy wil skryf.  Na die swem is hulle terug kamp toe om te gaan kos maak.  Neil was die “campcook” en het vir hulle ‘n potbrood en snoek gaar gemaak.  Dit was ‘n  heerlike aandete en na ete het hulle die vuur laag gehou aangesien dit volmaan was en die wêreld om hulle helder verlig was.  Hulle het nie veel gesels nie, sommer net gesit en luister en elk met sy eie gedagtes.  Dit was na twaalf dat Neil aangekondig het dat hy gou gaan swem voor hy kom inkruip.  “Gaan jy solank, ek wil gou opruim sodat ons more skoon borde het vir ontbyt”, het Sandra gesê.  Neil was vir amper tien minute alleen by die swemgat. Die water was heerlik lou en die maanlig was genoeg om tot op die bodem te verlig.  Hy het haar nie hoor aankom nie.  Net toe sy die water instap het hy dit gehoor en in haar rigting gekyk.  In die helder maanlig kon hy sien dat sy niks aangehad het nie.  Neil het stil gesit en na haar gekyk.  Sy het stadig die water ingestap, tot die water tot onder haar borste gekom het.  Haar lang blonde hare was los en het op die water agter haar gedryf.  Neil het stadig nader geswem, so sonder om rimpels op die water te maak.  Toe hy by haar kom het hy beide haar hande gevat.  Hy het nader beweeg tot hy haar oë kon sien.  Dit het selfs in die maanlig blou-groen gelyk.  Dieselfde kleur as die water.  Stadig het hy haar nader getrek, tot hy haar borste teen hom kon voel druk.  Hy het haar saggies op haar mond gesoen.  Sy het haar hande los gewoel en haar arms om hom gesit.  Neil het haar styf teen hom aangetrek.


Die volgende oggend toe Neil wakker word was sy reeds wakker en besig met ontbyt.  Hulle het saam ontbyt voorberei en lekker saam geëet.  Na skottelgoed is hulle saam af swemgat toe.  Neil kom sy oë nie van haar afhou nie.  Sy was vanoggend vir hom nog mooier.  Later is hulle terug kamp toe waar Neil begin skryf het.  Toe hy ‘n breuk vat, het hulle sommer oor Namibië, sy reise en sy verhaal waaraan hy werk gesels.  Toe sy hom vra oor sy volgende reis het hy haar van Malawi vertel. Van waar hy langs die meer wil gaan kamp en wat hy als wil doen.  Neil het agter gekom dat Sandra stil sit en luister het.  Dat sy nooit gevra het of sy planne haar insluit nie.  Dit is toe dat hy besef het, haar planne sluit hom nie in nie.  Hulle sal hierdie reis saam mee maak, saam gaan swem, lekker gesels en eet, langs die vuur sit, en vir solank die reis duur, saam in mekaar se arms slaap.  Dit is iets wat hulle albei nou baie nodig het, maar dat haar reis hiervandaan terug sal keer na die bekende toe.  Dat haar koutjie se deurtjie oopstaan en dat sy self kies om weer terug te vlieg.  In sy hart weet Neil ook dat, op sy beurt, hy nie gebonde wil wees nie.  Dat die nou en hier nie meer perfek kan wees nie, maar dat sy toekoms elders lê.

No comments:

Post a Comment