Sunday, May 31, 2015

Gisters op Greenmarket Square

Gisters op Greenmarket Square

Deur Karoogriffel

Lizette sit met haar voete onder haar ingevou op haar groot ou gemaklike stoel voor die venster in haar sitkamer.  Sy het nog haar slaapklere aan, want sy het bietjie later geslaap as op weeksdae.  Die beker koffie in haar hand is half gedrink en begin so effe koud word.  Sy het so soort van daarvan vergeet.  Sy droom al weer.  Van waar sy sit kan sy Tafelberg in die verte sien lê.  Dit is bewolk en die wind waai. Alhoewel sy nog nie buite was nie kan sy sien dat dit sommer koud is buite.  “Ook reg so” dink sy, dit is darem al Junie-maand.  Sy is veronderstel om aan die projek te werk wat sy vir die naweek ingepak het, maar nou sit en droom sy oor haar Saterdagoggende so klompie jare gelede.
Sy is gaande oor stalletjies, en haar gunsteling was altyd Greenmarket Square.  In die middel van die stad.  As dit eers aan die gang was, het die plek ‘n lewe van sy eie gehad - ‘n ”Vibe”.  Die baie stalletjie eienaars, elk met sy eie unieke produk.  Die mengelmoes van kleure en geur.  Almal het potensiële kopers probeer oorreed om sy produk te koop.  “Special price for you, mam”.  Dan probeer hulle nog soms mekaar se kliënte weg rokkel.  Die klere stalletjies  was altyd haar gunsteling.  Die meisies wat dit beman het was altyd soos gypsies aangetrek;  juis met die soort klere wat hulle verkoop. Die meeste het ook tattoos gehad en hul lang hare was in dun toutjies gevleg.  Arms vol koper en leer armbande.  Leer sandale aan die voete.  Hulle het altyd so sorgeloos en vry gelyk.  Gelukkig met wat hulle doen.  Lizette het altyd gewonder waarheen hulle verdwyn as die stalletjies laat middag op gepak word.  Sy het hulle nooit op ander plekke in die stad of winkelsentrums gesien nie.  Het hulle ‘n eie geheime plek gehad waarheen hulle saam met hul stalletjie voorraad verdwyn tot volgende keer?
Dan die Afrika stalletjies.  Gebreide velle, houtmaskers en Afrika dromme.  En die mense kon onderhandel.  Al het jy geweet dat hulle die pryse erg laai sodat hulle kan afslag gee.  Hulle het ook  kopdoeke en rompe met Afrika drukwerk op verkoop.  Dan was daar die stalletjies wat jewele verkoop het.  Meesal handgemaak van glas, half edelstene en krale.  Als mooi en kleurvol.  Hier en daar was iemand wat silwer verkoop het. Baie goedkoper as die juweliers in die formele sektor.  Altyd ook redelike unieke ware.  Seker maar uit Indië ingevoer.
Haar dag in stad toe het altyd so soort van ‘n vaste patroon gevolg.   Sy sou vroeg ry om lekker parkering op die stasie se dak te kry.  Dan het sy gaan koffie drink in ‘n koffiewinkel in die naby geleë sentrum.  Dit was lekker om daar te sit en na die voetgangers te kyk:  elk op sy eie missie.  Meesal mense haastig om by die werk te kom.  Daarna het sy opgestap Greenmarket Square toe waar sy dan deur elke stalletjie gesnuffel het.  Hier en daar iets gekoop het of sommer net met iemand gesels het.  Klaar deur die stalletjies gewerk, het sy eers weer gaan koffie drink by die kafee wat oor die square uitkyk.  Reg voor die kafee het dieselfde man elke Saterdag met sy kitaar gestaan en Bob Dylan liedjies gespeel en gesing. Hy het altyd ‘n jean aangehad met T-hemp en formele baadjie.  Sy hare was lank en sy het altyd gewonder waar hy vandaan kom.  Selfs as hy sing het hy ‘n aksent gehad.  Nogal aantreklik so op sy straatmusikant  manier.  Na koffie het sy eers deur “Sgt. Pepper” gaan stap.  Die winkel het ook altyd die interessantste ware te koop aangebied.  Hoofsaaklik ou weermag klere en ander produkte van reg oor die wêreld.  Sy het nooit iets gekoop nie, behalwe, onthou sy nou,  op die laaste dag wat sy daar was. Toe sy uitkom het dit begin reën en het sy omgedraai en vir haarself ‘n groot ou weermag baadjie gaan koop.  Die wapen op die mou het aangedui dat dit van Duitse afkoms was.  Dit was lekker warm en sy het dit sommer dadelik aangetrek.
Op pad terug na haar motor het haar lang donker hare sopnat gereën terwyl die baadjie haar snoesig warm en droog gehou het.  Toe sy vanaf die parkeer area af weg ry besluit sy, op die ingewing van die oomblik, om in plaas van huis toe, eerder Houtbaai toe te ry.
Teen die tyd dat sy daar aankom het dit nie meer gereën nie maar dit was winderig en lekker koud.  Die wolke het donker oor die see gelê.  Sy het uitgeklim om op die hawemuur  te stap.  Die reuk van vars vis en tjips het haar skielik baie honger gemaak.  Sy besluit om in die ry te gaan staan om vir haar ook te koop.  Die ry was lank, maar sy het nie omgegee nie.  Dit was lekker om so warm in haar baadjie te staan en luister na die gesprekke in verskillende tale rondom haar.  Toe sy voor kom bestel sy vis en tjips.  ”Met baie sout en asyn op asseblief.  En ‘n koffie”.  Met die “vis parcel” en wegneem koffie in die hand het sy op die hawe afgestap.  Weerskante van die muur het bote geanker gelê.  Die see se deining was nogal hoog en die bote het erg rondgewieg.  Aan die einde van die muur het sy gaan sit met haar bene wat oor die muur afgehang het.  Die vis was voortreflik.  Vars, en nie oorgaar gemaak nie.  Die tjips was net so lekker maar hopeloos te veel vir haar.  Die seemeeue wat daar rondvlieg was al gewoond daaraan om gevoer te word, en sommer gou was daar ‘n klompie om haar kop ook.  Sy het so hier en daar ‘n tjip in die lug gegooi wat dan deur die meeue uit die lug gevang was.  Op ‘n stadium het sy ‘n groot ou vet rob in die water gewaar wat ook sy snoet uitsteek om te vra waar sy tjips dan was.  Ook die koffie in die wegneem bekertjie was voortreflik.

Koffie, dit laat Lizette terug keur na die hede.  Sy besef haar koffie is nou yskoud.  Ook begin sy koud kry hier voor die venster.  Toe sy opstaan uit die diep warm stoel vang haar oog weer vir ou Tafelberg.  Ja die ou wêreld verander en ons lewens saam met dit, dink sy.  Sy sal maar gou gaan stort en begin met die werk wat op haar wag.  Sy weet, haar sorgelose jeug behoort aan gister.  As die kinders nou wakker word stort sy weer laaste in half-koue water.

Saturday, May 23, 2015

Die res van my lewe


Die res van my lewe

Deur Karoo griffel

Nolene skrik wakker en die eerste ding wat sy sien is die groot rooi syfers op die digitale alarm radio op die bedkassie langs haar bed:  06:04

Skielik tref die besef haar soos ‘n vuishou tussen die oë.”Vandag is my troudag”. Sy vlieg regop in die bed. Vir ‘n paar oomblike sit sy so. Dan, stadig, kom die wete van haar reëlings vir die dag na haar toe terug. Die alarm sal oor ‘n uur eers afgaan. Sy was veronderstel om laat te slaap. Dit sou genoeg tyd laat vir haar vriendin Reta, om haar te kom oplaai vir ontbyt. Daarna volg die een afspraak op die ander. Naels, hare, gesig en, en, en. So sal dit aanhou tot vier uur wanneer sy, uitgevat in haar trourok, met die bruidsmotor by die kerk sal opdaag. Daarna begin die res van haar lewe.

“Die res van my lewe?” Haar oog vang weer die tyd op die alarm. Nog een uur. Sy val weer terug op die bed, met haar kop op haar kussing. Dit sou beslis nou nie vreemd gewees het as haar oë dromerig  geraak het en daar so ligte glimlaggie op haar mond sou verskyn nie. In Nolene se geval verskyn daar egter nou ‘n frons op haar gesig. Haar blou oë word donker soos wanner sy kwaad of ontsteld is. “Die res van my lewe…”

Sy begin dink aan haar en Henk se verhouding. Hulle het drie jaar gelede ontmoet. By ‘n werksfunksie. Henk was Reta se metgesel vir die aand. Daar was nie ‘n verhouding tussen hulle nie, dit was net vriendskap. Die drie van hulle het sommer saam by ‘n tafel gaan sit en heel aand lekker oor dit en dat gesels. Aan die einde van die aand het Henk haar voor Reta gevra of hy haar weer mag uitvra.

Henk se familie het drie groot wildplase aangrensend tot die Kruger Wildtuin. Sy pa en jonger broer bestuur dinge daar terwyl Henk die bemarking plaaslik en oorsee doen. Hy het ‘n kantoor hier in die stad en gaan net so af en toe saam met belangrike groepe uit plaas toe.  Uit die aard van sy werk het hy ‘n uiters besige sosiale lewe en is hy ook twee maal per week op die golfbaan. Altyd saam met kliënte.

Hul verhouding het vining  gevorder. Henk wil altyd als vinnig doen. Dit was sy wat halt geroep het toe hy ses maande na hul ontmoeting al wou verloof raak. Sy het hom vir nog ‘n jaar kon stol, maar toe begin hy aandring dat dinge na ‘n kant toe moet gaan. Sy het ingestem maar haar voet neergesit en aangedring dat hul vir minstens een jaar verloof moet wees voor hulle kan trou.

Oor die laaste drie jaar het hy hard probeer om haar te verander. Hoe en wat sy aantrek, waar sy werk, haar vriende en veral haar sosiale lewe.  Sy hou van lekker gemaklike boheemse klere, hy wil haar in pakkies en formele aandklere sien. Sosiaal vir haar beteken braai en kamp, hy wil rond vlieg, in hotelle bly en formele etes doen.

Dit het veroorsaak dat Nolene ‘n dubbel lewe lei. Die een wat sy verkies saam met haar vriende en die ander saam met hom.  Toe hulle ses maande gelede die verlowing en troudatum aangekondig,  het, het hy skielik meer veeleisend geraak. Haar ou lewe en ook haar vriende het stadig in die newels van die verlede begin verdwyn.  Sy ma het al die troureëlings getref. Ook die gastelys. Nolene ken meer as tagtig present van die gaste glad nie. Haar familie en vriende maak nie eens twee tafels vol nie. Ook vandag, van na ontbyt, is totaal en al vir haar deur haar skoonma beplan.

Soos Nolene nou hier sit, weet sy regtig nie of dit is wat sy wil hê vir die res van haar lewe nie.  Sy is bekommerd en ja, sy is bang. Sy weet sy is lief vir Henk en dat hy vir haar lief is, maar die totale prentjie maak haar baie bang.

Nou gaan haar gedagtes na die laaste braai wat sy saam met haar ou vriende gehad het.  Hulle was sommer so klomp wat vir die naweek saam teen die rivier gaan kamp het. Almal het die naweek kaalvoet en sommer in hul swemklere geloop. Die aand sit hulle almal sommer om die vuur en gesels. Die vuur was sommer so in die sand gemaak,  juis sodat almal gesellig kon sit en gesels. Die gesprekke was lig en het hier en daar aan terg gegrens.  Haar ou skoolvriend, Theuns was die een wat sommer so uit die bloute gesê het hy dink sy, Nolene, maak ‘n fout met die troue. Reta het hom sommer dadelik met ‘n “sies vir jou”stil gemaak. Nog iemand het hom sommer met ‘n leë bierblikkie gegooi en wou weet of hy jaloers is. Theuns het niks verder gesê nie en Nolene het ook stil geraak. Die res van die aand het sy hom telkens betrap waar hy oor die vuur na haar sit en kyk het.

“Maak ek ‘n fout?”, vra Nolene haarself nou vir die eerste maal. Sy spring weer regop. As ek dit vra, dan beteken dit…   Sy sit seker vir nog tien minute so, toe gryp sy haar selfoon en skakel Reta se nommer. “Is ek dan al laat”, wou Reta dadelik weet toe sy antwoord. “Nee man”, verseker  Nolene haar, “maar ek gaan die ontbyt moet skip”. Sy kon hoor dat Reta afgehaal voel, maar sy wil nie nou verduidelik nie. Toe sy die Selfoon neersit spring sy uit die bed en hardloop letterlik deur die stort. Sy het haar gunsteling jean en ‘n lekker gemaklike indiese toppie aangetrek. Haar tas wat reeds vir die honeymoon gepak was op die bed uitgegooi en haar ou klere in die tas geprop.  Met haar hare nog nat en haar tas in die hand is sy na buite waar sy die sommer agterin haar jeep wrangler gooi. Sy spring agter die stuur in en begin ry.

Sy het amper twee uur gery toe sy eers stop en Henk se nommer  op haar sel skakel.  Nadat hy gegroet het wou hy sommer in dieselfde asem weet of sy op skedule is en of als vlot verloop. “Ja Henk, ek is op skedule en als verloop sommer baie goed. Ek ry al so twee ure en as als goed gaan sal ek voor donker by die see wees”.  Henk was stom geslaan. “Wat bedoel jy”, wou hy weet.  “Ek bedoel dat ek weet wat ek met die res van my lewe wil doen Henk, en dit wat jy wil doen en dit wat ek wil doen, pas net nie by mekaar nie. Jammer jong”.

Toe sy verder ry,  sit sy haar musiek hard. Dit is ‘n lekker vrolike en baie bekende lied wat speel en sy sing sommer kliphard saam.  Miskien sal sy môre vir Theuns skakel om te sê waar sy is. Miskien wil hy ook ‘n draai by die see kom maak.