Sunday, May 31, 2015

Gisters op Greenmarket Square

Gisters op Greenmarket Square

Deur Karoogriffel

Lizette sit met haar voete onder haar ingevou op haar groot ou gemaklike stoel voor die venster in haar sitkamer.  Sy het nog haar slaapklere aan, want sy het bietjie later geslaap as op weeksdae.  Die beker koffie in haar hand is half gedrink en begin so effe koud word.  Sy het so soort van daarvan vergeet.  Sy droom al weer.  Van waar sy sit kan sy Tafelberg in die verte sien lê.  Dit is bewolk en die wind waai. Alhoewel sy nog nie buite was nie kan sy sien dat dit sommer koud is buite.  “Ook reg so” dink sy, dit is darem al Junie-maand.  Sy is veronderstel om aan die projek te werk wat sy vir die naweek ingepak het, maar nou sit en droom sy oor haar Saterdagoggende so klompie jare gelede.
Sy is gaande oor stalletjies, en haar gunsteling was altyd Greenmarket Square.  In die middel van die stad.  As dit eers aan die gang was, het die plek ‘n lewe van sy eie gehad - ‘n ”Vibe”.  Die baie stalletjie eienaars, elk met sy eie unieke produk.  Die mengelmoes van kleure en geur.  Almal het potensiële kopers probeer oorreed om sy produk te koop.  “Special price for you, mam”.  Dan probeer hulle nog soms mekaar se kliënte weg rokkel.  Die klere stalletjies  was altyd haar gunsteling.  Die meisies wat dit beman het was altyd soos gypsies aangetrek;  juis met die soort klere wat hulle verkoop. Die meeste het ook tattoos gehad en hul lang hare was in dun toutjies gevleg.  Arms vol koper en leer armbande.  Leer sandale aan die voete.  Hulle het altyd so sorgeloos en vry gelyk.  Gelukkig met wat hulle doen.  Lizette het altyd gewonder waarheen hulle verdwyn as die stalletjies laat middag op gepak word.  Sy het hulle nooit op ander plekke in die stad of winkelsentrums gesien nie.  Het hulle ‘n eie geheime plek gehad waarheen hulle saam met hul stalletjie voorraad verdwyn tot volgende keer?
Dan die Afrika stalletjies.  Gebreide velle, houtmaskers en Afrika dromme.  En die mense kon onderhandel.  Al het jy geweet dat hulle die pryse erg laai sodat hulle kan afslag gee.  Hulle het ook  kopdoeke en rompe met Afrika drukwerk op verkoop.  Dan was daar die stalletjies wat jewele verkoop het.  Meesal handgemaak van glas, half edelstene en krale.  Als mooi en kleurvol.  Hier en daar was iemand wat silwer verkoop het. Baie goedkoper as die juweliers in die formele sektor.  Altyd ook redelike unieke ware.  Seker maar uit Indië ingevoer.
Haar dag in stad toe het altyd so soort van ‘n vaste patroon gevolg.   Sy sou vroeg ry om lekker parkering op die stasie se dak te kry.  Dan het sy gaan koffie drink in ‘n koffiewinkel in die naby geleë sentrum.  Dit was lekker om daar te sit en na die voetgangers te kyk:  elk op sy eie missie.  Meesal mense haastig om by die werk te kom.  Daarna het sy opgestap Greenmarket Square toe waar sy dan deur elke stalletjie gesnuffel het.  Hier en daar iets gekoop het of sommer net met iemand gesels het.  Klaar deur die stalletjies gewerk, het sy eers weer gaan koffie drink by die kafee wat oor die square uitkyk.  Reg voor die kafee het dieselfde man elke Saterdag met sy kitaar gestaan en Bob Dylan liedjies gespeel en gesing. Hy het altyd ‘n jean aangehad met T-hemp en formele baadjie.  Sy hare was lank en sy het altyd gewonder waar hy vandaan kom.  Selfs as hy sing het hy ‘n aksent gehad.  Nogal aantreklik so op sy straatmusikant  manier.  Na koffie het sy eers deur “Sgt. Pepper” gaan stap.  Die winkel het ook altyd die interessantste ware te koop aangebied.  Hoofsaaklik ou weermag klere en ander produkte van reg oor die wêreld.  Sy het nooit iets gekoop nie, behalwe, onthou sy nou,  op die laaste dag wat sy daar was. Toe sy uitkom het dit begin reën en het sy omgedraai en vir haarself ‘n groot ou weermag baadjie gaan koop.  Die wapen op die mou het aangedui dat dit van Duitse afkoms was.  Dit was lekker warm en sy het dit sommer dadelik aangetrek.
Op pad terug na haar motor het haar lang donker hare sopnat gereën terwyl die baadjie haar snoesig warm en droog gehou het.  Toe sy vanaf die parkeer area af weg ry besluit sy, op die ingewing van die oomblik, om in plaas van huis toe, eerder Houtbaai toe te ry.
Teen die tyd dat sy daar aankom het dit nie meer gereën nie maar dit was winderig en lekker koud.  Die wolke het donker oor die see gelê.  Sy het uitgeklim om op die hawemuur  te stap.  Die reuk van vars vis en tjips het haar skielik baie honger gemaak.  Sy besluit om in die ry te gaan staan om vir haar ook te koop.  Die ry was lank, maar sy het nie omgegee nie.  Dit was lekker om so warm in haar baadjie te staan en luister na die gesprekke in verskillende tale rondom haar.  Toe sy voor kom bestel sy vis en tjips.  ”Met baie sout en asyn op asseblief.  En ‘n koffie”.  Met die “vis parcel” en wegneem koffie in die hand het sy op die hawe afgestap.  Weerskante van die muur het bote geanker gelê.  Die see se deining was nogal hoog en die bote het erg rondgewieg.  Aan die einde van die muur het sy gaan sit met haar bene wat oor die muur afgehang het.  Die vis was voortreflik.  Vars, en nie oorgaar gemaak nie.  Die tjips was net so lekker maar hopeloos te veel vir haar.  Die seemeeue wat daar rondvlieg was al gewoond daaraan om gevoer te word, en sommer gou was daar ‘n klompie om haar kop ook.  Sy het so hier en daar ‘n tjip in die lug gegooi wat dan deur die meeue uit die lug gevang was.  Op ‘n stadium het sy ‘n groot ou vet rob in die water gewaar wat ook sy snoet uitsteek om te vra waar sy tjips dan was.  Ook die koffie in die wegneem bekertjie was voortreflik.

Koffie, dit laat Lizette terug keur na die hede.  Sy besef haar koffie is nou yskoud.  Ook begin sy koud kry hier voor die venster.  Toe sy opstaan uit die diep warm stoel vang haar oog weer vir ou Tafelberg.  Ja die ou wêreld verander en ons lewens saam met dit, dink sy.  Sy sal maar gou gaan stort en begin met die werk wat op haar wag.  Sy weet, haar sorgelose jeug behoort aan gister.  As die kinders nou wakker word stort sy weer laaste in half-koue water.

No comments:

Post a Comment