Monday, August 31, 2015

Doodskoot


Deur Karoogriffel

Intense bewustheid.  Al my sintuie tot die uiterste ingespan.  Ek is bewus van elke enkele veranderlike om my.  Elke klippie soos ek hier onder die kamofleernet in die beskutting van die plantegroei lê.  Die net en die plantbeskutting maak my totaal onsigbaar.  Die geweer,  teleskoop en knaldemper is ook in kamofleer kleure gespuit en die lyn van die loop word deur kamofleer lap gebreek.  Nie eens ‘n professionele oog sal my raaksien nie.  Die .50BMG skerpskutter geweer staan perfek op sy tweepoot met die kolf koud teen my wang.  Die 40x  Tuscan teleskoop is so kragtig dat dit voel asof ek aan die vensterraam sou kon raak as ek my hand uitsteek.

In werklikheid is die venster amper  250 meter  van my af.  Tussen my en die teiken is die teerpad wat rustig tussen die luukse landgoedere in die rykmansbuurt deur kronkel. Dan nog die sekuriteits omheining, die tuin met sy groot groen grasperk en die swembad.  Meer ideaal kon die omstandighede nie gewees het nie.  Helder sonskyn, windstil dag.  Dit sal die perfekte skoot wees.

Soos gewoonlik ken ek nie die klient nie en beslis ook nie die teiken nie. Die kliënt maak kontak deur ‘n internet advertensie.  Ek reageer daarop, as ek seker is dat als veilig is, deur ‘n telefoonnommer en addres te laat.  As ek die kliënt kontak is dit baie professioneel, saaklik en feite word uitgeruil.  Sodra betaling ontvang word, gaan ek oor tot die volgende fase.  Dit neem gewoonlik nogal lank.  Die teiken. Ek moet als omtrent die teiken leer.  Presies wie dit is, waar hy woon, waarmee hy ry, waar hy werk, sy vriende en gewoontes.  Alles.  Dit neem maklik ‘n maand om al die intel te versamel en myself op te stel om die kontrak te voltooi.

Nou is alles in plek.  Ek lê gereed om die doodskoot te skiet.  Ek het omstandighede so gereel dat die teiken by die huis is, dat hy op ‘n sekere tyd ‘n oproep sal verwag en dat hy dit in sy studeerkamer op sy privaat landlyn sal neem.  Sonder om my oog van die teleskoop te haal loer ek met my linker oog na die TAG Heuer horlosie op my linker pols.  Enige oomblik.

Die studeerkamer deur gaan oop.  Die teiken kom in en maak die deur weer agter hom toe.  Hy gaan sit op die stoel agter sy lessenaar en kyk vir ‘n oomblik deur die venster.  Dit voel of ons vir mekaar kyk.  Dan trek hy papierwerk nader en gee sy aandag daaraan.  Ek beweeg die geweer minder as vyf millimeter en die kruis in my teleskoop rus perfek op sy regter oog.  Die projektiel sal sy oog binne dring, deur die oogkas en deur sy brein.  Dit sal ‘n groot gat maak waar dit agter uitkom en die bloed  en stukkies van sy brein sal tot teen die boeke agter hom in die boekrak spat.  Die projektiel sal erns in ‘n boek te ruste kom.  Die teiken sal dood wees voor hy die grond tref.  Als sal geruisloos gebeur.  Die knaldemper sal sorg dat die skoot sonder ‘n geluid afgaan.  Die hoë spoed waarmee die projektiel trek sal sorg dat daar slegs ‘n klein gaatjie in die ruit gemaak word. Twee drie sekondes.  Dit is al.  Dan is alles oor.  Iemand sal hom later dood in die studeerkamer aantref as hulle na hom kom soek.  Ek sal rustig my toerusting oppak en deur die bome stap na waar my motor geparkeer is.  Ek sal inklim en weg ry.  Nog ‘n kontrak voltooi.

Ek vergewis myself vir oulaas van alle veranderlikes rondom my.  Maak seker dat als perfek en veilig is. Maak seker dat die kruis in my teleskoop presies op sy regter oog is.  Ek trek my asem rustig in, en met die uitblaas druk ek die sneller van my geweer liggies.  Die geweer beweeg amper niks in my hande nie. Ek sien die teiken agteroor uit sy stoel val. Die rooi spatsels agter teen die boeke verseker my dat die kontrak suksesvol afgehandel is.

No comments:

Post a Comment