Wednesday, November 11, 2015

My grootste saak ooit


Deur karoogriffel

Toe ek vroeër uit was buitentoe om te gaan koeldrank koop, het ek agtergekom dat my skoene se sool hul patroontjie afdruk in die dik teer op die rand van die sypaadjie.  Ek het besef dat die son die teer smelt, net daar en dan het ek my begin verbeel ek kan die warm teer ruik.  Dit het sommer warmer gevoel.  Selfs die koeldrank was nie behoorlik koud nie. Ek het dit terug gebring na my kantoor toe.  Hier is darem ys wat ek onder in die glas kon gooi.  Dit koel die koeldrank lekker af.  Ek het net met my glas gaan sit toe sy inkom.

“Is ek nou by die regte plek”vra sy. Dit verstom my altyd.  My kantoor is in “n ou huis in die hoofstraat.  Ek is alleen in die gebou en die bord buite sê in groot swart letters “DAAN RETIEF PRIVAAT SPEURDER”.  Niemand kan dit mis nie.  Hoekom dan vra of sy op die regte plek is.  Dink sy miskien dit is die plaaslike “Lingerie Winkel”.   As dit nie so warm was nie, sou ek iets sarkasties geantwoord het.  Nou het ek nie energie daarvoor nie.   Ek staan ook nie op nie, ek kyk net in haar rigting.

Wat ek sien laat my sommer regop sit.  Sy is mooi.  Baie mooi en besonder goed gebou.  Sy dra ‘n katoen rok met al die kleure van die reënboog.  Haar lang swart hare is in klein vlegseltjies en hier en daar is daar ‘n lint of ‘n veer in die vlegsel.  Sy is kaalvoet en daar is ‘n leersak oor haar skouer.  Haar stem is in kontras met die hitte, amper sprankelend.  “Sit” nooi ek haar en vra haar of sy ook koeldrank soek.  Sy bedank dit vriendelik.  “Is jy die privaat speurder?”vra sy, en eers toe besef ek ek moet seker vra of ek kan help.  “Ek is, Daan Retief, waarmee help ek jou vandag?”.  Sy kyk my half skepties aan, en ek weet hoekom. Lang hare, T-hemp en lapbroek.  Kaalvoet, waarvoor sy my nie kan veroordeel nie, sy dra dan self nie skoene nie.   “Ek soek iemand wat iemand kan dophou” sê sy.  “Kom ons begin by die begin.  Wie is jy, wie is die iemand wat jy soek en wie is die iemand wat jy wil dophou? En so “by the way”, ek het nie ‘n pak klere nodig om iemand dop te hou nie”.

Daar speel ‘n ligte glimlag om haar mond.  “O.K.  By die begin is dit.  Wel ek is Julia Augustyn en ek soek ‘n privaat speurder om my verloofde dop te hou”.  “En hoekom wil jy hê dat hy dopgehou moet word?”  “Omdat ek dink hy verneuk my, dit is hoekom”.  “As hy nog net jou verloofde is, hoekom los jy hom nie net nie?  As hy jou nou al verneuk, wat dink jy gaan hy oor vyf jaar doen?”  “Hom los!” sê sy met die trek van ‘n gesig asof sy wil vra, WAT DINK JY. “Natuurlik gaan ek hom los, ek wil hom darem net wys hoekom.  Hy moet weet hoekom ek hom los, en ek wil weet waarmee hy my verneuk”.

Terwyl ek na haar sit en luister, weet ek al dat ek nie haar saak gaan vat nie.  Ek wil nie weet hoe die man lyk wat so meisie wil verneuk nie, en ek wil ook nie sien waarmee hy haar so verneuk nie.  Om die waarheid te sê, ek wil ook nie hê dat sy daai mooi koppie langer daaroor moet breek nie.  Iemand soos dié moet op die hande gedra word.  Sy moet bemin word en ek ken net die man wat dit behoort te doen.  Ek kyk nou sommer mooier na haar en dit wat ek sien beindruk my meer.  Die fyn lyne van haar gesig, die manier wat sy aantrek en die gemaklikheid wat haar hare weerspieël.

“Wel Julia, ek mag seker maar sê Julia?  (Sy knik haar kop instemmend) Jy moet my nou al jou besonderhede gee sodat ek dit kan verifieer, en dan reël ons ‘n opvolg afspraak en ons gaan oor die feite van die saak.  Dan gee ek jou my aanbeveling en jy besluit om dit te aanvaar”.  Weer kry sy die vermaakte uitdrukking op haar gesig.  “Sommer net so?” vra sy. “Ja, sommer net so, anders het ek niks om mee te werk nie”.  Sy gee my haar adres asook haar selfoon nommer.  Ek skryf die adres neer en pons sommer dadelik die nommer en haar naam op my sel in.  Ek druk ook die groen knoppie en binne sekondes begin haar foon lui. “Nou het jy my nommer ook”.

Toe sy uitstap skakel ek vinnig ‘n restaurant in die dorp en bespreek ‘n tafel vir twee.  Ek wag so amper ‘n half uur toe skakel ek weer Julia se nommer.  Sy antwoord dadelik en toe ek sê wie dit is kon ek hoor sy het reeds geweet.  “Mag ek jou net voor agt uur vannaand kom oplaai dan gaan bespreek ons die saak op neutrale grond?”  “Neutrale grond?” vra sy en weer hoor ek die lag in haar stem.  Sy stem in en ons groet.

Toe ek haar op die afgespreekte tyd voor haar huis oplaai, was sy in haar jeans en ‘n mooi ligte bostuk, maar weer kaalvoet.  Ek  groet toe sy inklim en ons vertrek.  Toe ek voor die restaurant stop het sy geen aanduiding gegee dat sy verbaas was nie.  Ons het by ons bespreekte tafel gaan sit en die kelner het gevra wat ons gaan drink.  Sonder om in my rigting te kyk het sy ‘n bottel witwyn bestel.  Toe die kelner na my kyk het ek net my kop geknik.  Ons was halfpad deur die bottel en lekker aan die gesels toe ons ons gereg vir die aand bestel.  Weer het sy my verbaas toe sy sommer namens ons albei vra of ons net n groot kaasbord met beskuitjies kan kry.  Weer het ek net my kop geknik.

Dit was amper twaalfuur, een kaasbord en twee bottels witwyn later dat ons die restaurant verlaat het.  Ons het nooit oor die saak gepraat nie, en toe ons by my motor kom het ek die deur vir haar oop gemaak.   Dit het gevoel asof ons mekaar al jare ken.  Met die inklim het sy liggies aan my arm geraak en dankie gesê.  Sy was so anders, so vars en so vol lewe.  Ons het so gemaklik gesels oor so baie dinge.

Toe ek voor haar huis stop, het sy na my gedraai:  “en toe, mnr. Daan Retief, die privaat speurder, wat is jou aanbeveling?”  Ek kon aan die glans in haar oë sien sy was in ‘n goeie bui en ek het geweet wat sy regtig bedoel.  “Wel Juffrou Augustyn, na deeglike ondersoek het ek besluit dat die enigste manier om jou teen die wolwe van die wêreld te beskerm sal wees om jou identiteit en adres te verander.  Ek stel voor jy hou jou naam maar ons verander jou van na Retief en jou adres na myne.  Sy het hardop gelag, maar dit was ‘n mooi lag.  Dit was ‘n lag wat sê “Ek stem saam”.   “Klink goed Meneer die Speurder, maar ek wil tog voorstel dat ons die saak bietjie langer moet ondersoek”.

Nou het ons altwee gelag, en geweet ons sal voortaan saam aan die spesifieke saak moet werk.
 
 

Friday, November 6, 2015

Die Yin Yang in ons


Deur karoogriffel

Elkeen van ons het ‘n goeie en ‘n slegte wolf binne ons.  Watter een is die sterkste? Die een wat jy die meeste voer.

Dit is so natuurlik soos om asem te haal.  As dit gebeur, gebeur dit.  Dit is ‘n chemiese reaksie in jou liggaam. Daar word ‘n groot hoeveelheid adrenalien in jou bloedstroom vrygelaat.  Jou hartklop versnel en jou pupille vergroot.  Jou hande sweet liggies en jou mond raak droog.  Jy is onmiddellik woedend.  Dit is die veg of vlug-meganisme, en vandag is dit “veg” wat wen.

Daar is ook emosies betrokke.  Dit bou oor tyd op in jou.  Johan dink al die laaste twee weke oor die goed wat vandag die laaste strooi was wat sy kameel se rug gebreek het.  Die eerste was ‘n ou dame wat in die naburige dorp, slegs dertig kilometer weg, met ‘n mes vermoor is. Dit om haar selfoon en ‘n paar rand uit haar beursie te steel.

Gister het ‘n taxi hom amper verongeluk toe dié sonder waarskuwing reg voor hom intrek en hom noodsaak om so hard te rem dat hy amper deur die voorruit van sy motor is.  Was dit nie vir die veiligheidsgordel nie, was daar probleme.  Daar was nog drie ander situasies wat bygedra het tot die woede wat nou tot uiting kom.

Gisteraand het hy nog vir homself ‘n glasie rooiwyn geskink, rustig op die leerbank gaan sit om na sy gunsteling musiek te luister.  Sy gedagtes het gedwaal oor die gebeure van die laaste twee weke.  Daar het ‘n groot magteloosheid oor hom gespoel.  Hy het besef, daar is niks wat hy alleen kan doen nie. Hy het weer aan die plaasmoorde gedink, oumense wat wreed aangerand en dan vermoor word. Inbrake en ander misdaad waaroor die koerante daagliks berig. Hierdie week was dit ook nog die studente betogings wat in misdaad uitgedraai het. Mense se motors is beskadig, geboue afgebrand en ander studente se besittings gesteel.  Sy gedagtes het gegaan na die polisie se onvermoë  om dit hok te slaan. Misdade word gepleeg deur die polisie se eie lede.  As hulle hulself nie eens kan polisieer nie, hoe gaan hulle die publiek beskerm teen misdaad.

In plaas daarvan dat die musiek en die rustige atmosfeer van sy tuiste hom kalmeer soos gewoonlik, het sy eie gedagtes hom nou so ontstel dat hy nie eens die glasie wyn klaar drink nie.  Hy het opgestaan, die musiek afgesit en buite in die donker gaan sit.  Sy hond, Sasha het langs hom kom sit en Johan het oor haar kop gestreel.  Dit was na middernag toe hy gaan stort en op die bed gaan lê.  Hy het eers baie later in ‘n onrustige slaap geval.  Voor ses vanoggend was hy wakker.  Hy het sommer weer gaan stort net om die tamheid uit sy liggaam te probeer spoel.  Die gedagtes van gisteraand het weer in hom opgewel.  Hy was nou sommer kwaad vir homself omdat hy dit weer toegelaat het.

Op pad werk toe het hy hom weer, soos gewoonlik,  vir die verkeer vererg.  Die kersie op die koek was dat die nuus oor die radio, soos amper elke dag, weer oor geweld in die land berig het. By sy kantoor aangekom het hy hom dadelik in die werk  begrawe in ‘n poging om die realiteite te ontsnap.

Vir middagete het hy na die wegneem ete plek verder af in die straat gestap om daar iets te kry.  Hy het toe nooit gisteraand geëet nie en was nou lekker honger.  Daar was drie mense voor hom in die ry en hy het effe ongeduldig gewag om gehelp te word.  Net toe die dame agter die toonbank hom wou bedien, het daar ‘n jongman met oor-groot jeans, t-hemp waarop daar die word “DOPE SHIT “gedruk is en een of ander patroontjie in sy kort hare geskeer, voor hom ingedruk.  Die glimlag op die kelnerin se gesig het duidelik getoon dat sy hom ken.  “Hoe lykit meta coke” het hy gevra.

Johan het nie haar antwoord gehoor nie. Sy brein het onmiddelik afgeskakel.  Die emosies van die laaste twee weke, asook die adrenalien wat in sy bloedstroom beland neem sy brein onmiddellik oor.  Hy voel hoe hy sy rasionele denke verloor.  Sy instink neem oor.  Die veg-meganisme in hom het aangeskakel.  Hy besef dat sy regterhand reeds na die greep van die 9mm Glock wat hy onder sy baadjie dra, beweeg het.  Hy steek sy linkerhand uit en vat die man voor hom aan die skouer.  Sy mond is so droog, hy sukkel om te praat.

“Wat dink jy doen jy?  Kan jy nie sien ons staan almal in ‘n ry nie?” vra hy die onbekende man voor hom.  Die man draai om, “chill ou ek soek net ‘n coke”.  Johan het nou al die pistool in sy hand. Die jong man voor hom sien dit, maar in plaas daarvan dat dit hom afskrik, maak dit hom net meer arrogant.  “Wil jy my nou skiet?  Kom, skiet!  Hier staan baie rond wat sien wat jy doen”.

Vinnig kom ‘n hand van agter by Johan se skouer verby.  Die hand neem die 9mm uit sy hand deur sy pols liggies te draai.  Johan kan aan die hand en arm sien dat dit ‘n sterk jong man is.  Voor hy kan reageer praat die man agter hom.  “Ekskuus Meneer, maar moenie dit doen nie.  Hy is dit nie werd nie.  Moenie u lewe opmors met die neem van die lewe van ‘n skollie nie.  Ek ken hom.  Hy is dit nie werd nie”.  Die man beweeg by Johan verby, en met een beweging ruk hy die indringer uit die ry voor die toonbank.  “Maak spore jou gemors”.

Johan stap sonder sy ete daar weg. Die 9mm in sy baadjie se sak. Hy besef, dat hy nou amper sy hele toekoms op gemors het.  Hy besef ook dat hy nie die algemene toestand in die land aan een bevolkingsgroep mag toeskryf nie.  Was dit nie vir die jong swart man nie, sou hy vandag ‘n lelike fout begaan het.  Die man het hom van homself gered.

Die aand sit Johan weer buite.  Hy dink weer oor als, en besef, dat daar genoeg goeie mense in die land is.  As almal van hulle saam staan sal dit die verkeerdes oorwin.  Hy besef ook dat hy die goeie wolf in homself moet kos gee om die slegte te oorwin.