Friday, November 6, 2015

Die Yin Yang in ons


Deur karoogriffel

Elkeen van ons het ‘n goeie en ‘n slegte wolf binne ons.  Watter een is die sterkste? Die een wat jy die meeste voer.

Dit is so natuurlik soos om asem te haal.  As dit gebeur, gebeur dit.  Dit is ‘n chemiese reaksie in jou liggaam. Daar word ‘n groot hoeveelheid adrenalien in jou bloedstroom vrygelaat.  Jou hartklop versnel en jou pupille vergroot.  Jou hande sweet liggies en jou mond raak droog.  Jy is onmiddellik woedend.  Dit is die veg of vlug-meganisme, en vandag is dit “veg” wat wen.

Daar is ook emosies betrokke.  Dit bou oor tyd op in jou.  Johan dink al die laaste twee weke oor die goed wat vandag die laaste strooi was wat sy kameel se rug gebreek het.  Die eerste was ‘n ou dame wat in die naburige dorp, slegs dertig kilometer weg, met ‘n mes vermoor is. Dit om haar selfoon en ‘n paar rand uit haar beursie te steel.

Gister het ‘n taxi hom amper verongeluk toe dié sonder waarskuwing reg voor hom intrek en hom noodsaak om so hard te rem dat hy amper deur die voorruit van sy motor is.  Was dit nie vir die veiligheidsgordel nie, was daar probleme.  Daar was nog drie ander situasies wat bygedra het tot die woede wat nou tot uiting kom.

Gisteraand het hy nog vir homself ‘n glasie rooiwyn geskink, rustig op die leerbank gaan sit om na sy gunsteling musiek te luister.  Sy gedagtes het gedwaal oor die gebeure van die laaste twee weke.  Daar het ‘n groot magteloosheid oor hom gespoel.  Hy het besef, daar is niks wat hy alleen kan doen nie. Hy het weer aan die plaasmoorde gedink, oumense wat wreed aangerand en dan vermoor word. Inbrake en ander misdaad waaroor die koerante daagliks berig. Hierdie week was dit ook nog die studente betogings wat in misdaad uitgedraai het. Mense se motors is beskadig, geboue afgebrand en ander studente se besittings gesteel.  Sy gedagtes het gegaan na die polisie se onvermoë  om dit hok te slaan. Misdade word gepleeg deur die polisie se eie lede.  As hulle hulself nie eens kan polisieer nie, hoe gaan hulle die publiek beskerm teen misdaad.

In plaas daarvan dat die musiek en die rustige atmosfeer van sy tuiste hom kalmeer soos gewoonlik, het sy eie gedagtes hom nou so ontstel dat hy nie eens die glasie wyn klaar drink nie.  Hy het opgestaan, die musiek afgesit en buite in die donker gaan sit.  Sy hond, Sasha het langs hom kom sit en Johan het oor haar kop gestreel.  Dit was na middernag toe hy gaan stort en op die bed gaan lê.  Hy het eers baie later in ‘n onrustige slaap geval.  Voor ses vanoggend was hy wakker.  Hy het sommer weer gaan stort net om die tamheid uit sy liggaam te probeer spoel.  Die gedagtes van gisteraand het weer in hom opgewel.  Hy was nou sommer kwaad vir homself omdat hy dit weer toegelaat het.

Op pad werk toe het hy hom weer, soos gewoonlik,  vir die verkeer vererg.  Die kersie op die koek was dat die nuus oor die radio, soos amper elke dag, weer oor geweld in die land berig het. By sy kantoor aangekom het hy hom dadelik in die werk  begrawe in ‘n poging om die realiteite te ontsnap.

Vir middagete het hy na die wegneem ete plek verder af in die straat gestap om daar iets te kry.  Hy het toe nooit gisteraand geëet nie en was nou lekker honger.  Daar was drie mense voor hom in die ry en hy het effe ongeduldig gewag om gehelp te word.  Net toe die dame agter die toonbank hom wou bedien, het daar ‘n jongman met oor-groot jeans, t-hemp waarop daar die word “DOPE SHIT “gedruk is en een of ander patroontjie in sy kort hare geskeer, voor hom ingedruk.  Die glimlag op die kelnerin se gesig het duidelik getoon dat sy hom ken.  “Hoe lykit meta coke” het hy gevra.

Johan het nie haar antwoord gehoor nie. Sy brein het onmiddelik afgeskakel.  Die emosies van die laaste twee weke, asook die adrenalien wat in sy bloedstroom beland neem sy brein onmiddellik oor.  Hy voel hoe hy sy rasionele denke verloor.  Sy instink neem oor.  Die veg-meganisme in hom het aangeskakel.  Hy besef dat sy regterhand reeds na die greep van die 9mm Glock wat hy onder sy baadjie dra, beweeg het.  Hy steek sy linkerhand uit en vat die man voor hom aan die skouer.  Sy mond is so droog, hy sukkel om te praat.

“Wat dink jy doen jy?  Kan jy nie sien ons staan almal in ‘n ry nie?” vra hy die onbekende man voor hom.  Die man draai om, “chill ou ek soek net ‘n coke”.  Johan het nou al die pistool in sy hand. Die jong man voor hom sien dit, maar in plaas daarvan dat dit hom afskrik, maak dit hom net meer arrogant.  “Wil jy my nou skiet?  Kom, skiet!  Hier staan baie rond wat sien wat jy doen”.

Vinnig kom ‘n hand van agter by Johan se skouer verby.  Die hand neem die 9mm uit sy hand deur sy pols liggies te draai.  Johan kan aan die hand en arm sien dat dit ‘n sterk jong man is.  Voor hy kan reageer praat die man agter hom.  “Ekskuus Meneer, maar moenie dit doen nie.  Hy is dit nie werd nie.  Moenie u lewe opmors met die neem van die lewe van ‘n skollie nie.  Ek ken hom.  Hy is dit nie werd nie”.  Die man beweeg by Johan verby, en met een beweging ruk hy die indringer uit die ry voor die toonbank.  “Maak spore jou gemors”.

Johan stap sonder sy ete daar weg. Die 9mm in sy baadjie se sak. Hy besef, dat hy nou amper sy hele toekoms op gemors het.  Hy besef ook dat hy nie die algemene toestand in die land aan een bevolkingsgroep mag toeskryf nie.  Was dit nie vir die jong swart man nie, sou hy vandag ‘n lelike fout begaan het.  Die man het hom van homself gered.

Die aand sit Johan weer buite.  Hy dink weer oor als, en besef, dat daar genoeg goeie mense in die land is.  As almal van hulle saam staan sal dit die verkeerdes oorwin.  Hy besef ook dat hy die goeie wolf in homself moet kos gee om die slegte te oorwin.

No comments:

Post a Comment