Tuesday, December 29, 2015

Donker Kersfees

Donker Kersfees

Deur: Karoogriffel

Gerber word wakker van die gelui van kerkklokke.  Hy besef dat hy moeg is.  Was seker weer die heel nag  besig.  Hy lê stil, sonder om sy oë oop te maak.  Dit is ‘n manier wat hy jare terug aangeleer het. Niemand wat na hom sou kyk sou kon raai dat hy nou nugter wakker is nie.  “Hoekom lui die kerkklokke dan nou, is dit dan Sondag”?  Hy lê en orden die dae wat verby is.  Hy kan nie onthou van Vrydag en Saterdag nie.  As dit nou Sondag is, wat het van hulle geword.  Hy lê seker nog vyf minute so en maak seker dat hy elke geluid om hom kan identifiseer. Dan besluit hy om sy oë oop te maak en op te staan.
Toe hy die plastiek wat oor die kartondoos gegooi is weg trek, verblind die vroegoggend somerson hom amper.   het laat gelê.  Hy is gewoonlik vroeër op.  Hy vou die plastiek weer netjies terug en pak sy bakstene op die plastiek sodat die wind dit nie kan weg waai nie.  So leef Gerber al vir langer as wat hy kan onthou, in die karton in die stegie in die middestad van Kaapstad.  Hy rek hom tydsaam uit, soos ‘n kat.  Maak seker dat als nog reg voel en dat  hy  soepel voel voor hy begin beweeg.  Dit pla hom nou dat  hy oënskynlik twee dae uit sy bestaan verloor het.  Gewoonlik is hy nogal bewus van sy omgewing en die dae.  Hy onthou ook elke persoon waarmee hy in aanraking kom.  Dit is nou maar een van sy “skills”.  Stadig stap hy uit die stegie in die rigting van die Groote Kerk.  Dit was “sy” klokke wat so gelui het.  Hy sien nou die kerkgangers netjies aangetrek, in die rigting van die deur stap.  “Dan is dit Sondag”, dink hy by homself, en gaan sit sommer op ‘n muurtjie om sy gedagtes te probeer orden.
Terwyl hy so ingedagte daar sit, kom daar ‘n man en vrou verby oppad kerk toe.  “Geseënde Kersfees” sê die man in sy rigting en stap verby.  Gerber spring van die muurtjie af en hardloop vinnig tot by die man en sy vrou. Ekskuus, het u gesê Geseënde kersfees”?  Die man lyk verbaas en bevestig dan dat dit is wat hy gesê het.  “Beteken dit dat dit vandag  Vrydag is en dat die kerkklokke gelui het om die kersdiens aan te kondig”?  Weer knik die man bevestigend.  “Baie dankie, vir u en die dame ook. Geseënde Kersfees”.  Gerber draai om en stap stadig terug na die muurtjie.  Sy eerste reaksie is dat hy dankbaar is.  Ten minste weet hy nou waar die verwarring oor die dae vandaan kom.  Dit is dan nou sommer uitgeklaar.  Dan dink hy oor die feit dat dit kersfees is vandag.  Hy het nie eens geweet nie.  Ander mense doen seker al weke lank kers inkopies, sit die kersboom en liggies op en berei hul kersmaal voor.  Hy het maar net soos gewoonlik van een dag na die ander geleef.  Hy het nie eens besef dat dit kerstyd is nie.
Dit was nie altyd so nie.  Hy dink terug aan sy kinderjare, toe sy ouers ook kersfees gevier het.  Aan sy jong dae toe hy begin werk het.  Hy was ‘n polisieman. Hy het goed gevorder en was vinnig in die speurtak opgeneem.  Dwelms.  Dit was sy afdeling se werk.  Hy onthou vir Shamelia, hoe verlief hulle was.  Hul eerste kersfees saam.  Hoeveel pret hulle gehad het. Hoe hulle hul toekoms saam beplan het.  Dan spring sy gedagtes maar weer  terug na die oggend amper 5 jaar gelede toe hy na ‘n klopjag op dwelmbase se kantore by die woonstel opdaag.  Hy was moeg en vies.  Die inligting wat aan hulle – aan die dwelmtak – deurgegee, was foutief, en boonop is hy bitter moeg.  Toe hy voor die deur van die woonstel kom het hy geweet dat daar  groot fout was.
Die woonstel deur was oop.  Die reël was dat dit altyd gesluit sal wees, en hulle het ‘n kode klop gehad waarmee hy Shamelia laat weet het dit is hy wat voor die deur staan.  As sy alleen was, het sy slegs op die kode klop oop gemaak.  Gerber het sy dienspistool uit sy skede gehaal, dit gespan en versigtig in beweeg.  Toe hy die sitkamerlig aanskakel het hy haar gesien.  Sy het oor die koffietafel in die middel van die vertrek gelê.  Hy het onmiddelik geweet sy is dood.  Hulle het haar ook aangerand voor sy deur die kop geskiet is.  Gerber kan nou nog nie onthou wat presies verder gebeur het nie. Hy het twee dae later in die hospital wakker geword.  Die dokter sê dat sy brein net afgeskakel het. Na die begrafnis is hy terug hospitaal toe, waar hy vir dae deur sy eie kollegas, asook die sielkundige van die hospitaal ondervra is.  Die speurders se uitslag was dat sy verloofde deur die dwelmsindikaat vermoor is.  Hulle het die dwelmtak se mense met opset verkeerde inligting gevoer om hom die aand weg van die woonstel af te kry.  In sy afwesigheid het die krimenele hul werk ongehinderd gaan doen.  Die sielkundige het hom na sewe maande se behandeling uit die hospitaal ontslaan, maar nie bevoeg vir diens verklaar nie.  Gerber was onbevoeg verklaar en op pensioen gesit.  Die moordenaars van Shamelia is nog nie gevind nie.
Na sy ontslag het Gerber terug gegaan woonstel toe.  Die gedagte aan wat hy daar gesien het kon hom net nooit weer los nie en hy het begin om al meer tyd in die strate deur te bring.  Uiteindelik het hy nooit weer terug gegaan nie.  Hy was nou ‘n “homeless person”.  Sonder dat Gerber self dit agter gekom het, het hy sy werk begin voortsit.  Elke nag het hy die strate patroleer op soek na dwelm transaksies of mense wat aangerand word.   As hy daarop afkom, het hy dit opgebreek en die aanrander en dwelhandelaars het altyd baie sleg daarvan afgekom.  Die speurders, sy eie oud-kollegas het hom so ‘n paar maal opgetel as deel van ‘n ondersoek weens aanranding.  Nooit was die ondervraging te agressief nie en hy is altyd vrygelaat weens ‘n gebrek aan getuienis en bewyse.
Dan onthou hy wat gebeur het.  Gisteraand het hy die hoofverdagte in sy verloofde se moordsaak gesien waar hy met ander bekende dwelmhandelaars in ‘n motor gesit en onderhandel het.  Gerber het geweet dat dit die oomblik was waarop hy gewag het.  Hoekom hy die strate nou al vir twee jaar elke nag deurswerf.  Hy het gewag.  Later het die man uit die motor geklim en begin wegstap.  Gerber het hom agtervolg.  Die man moes agtergekom het, want hy het in ‘n stegie ingedraai en Gerber voorgelê, pistool in die hand.  Toe Gerber om die draai kom, het die man hom gestop en gevra wat hy soek.  Toe Gerber sy “hoodie” van sy kop afvee, het die man hom onmiddellik herken. In sy oë kon Gerber ook lees dat hy geweet het hoekom Gerber nou voor hom staan.  Dit was sy skulderkentenis.
Gerber het soos blits in aksie oorgegaan.  Hy het plat geval en in een judo beweging het hy met sy eie  bene die man voor hom se bene met soveel geweld onder hom ingevou dat die onmisbare klank van die breek van been hoorbaar was.  Met sy volgende beweging het hy die adamsappel van die man met sy haak ingekap, ook met soveel geweld dat hy die kraakbeen van sy gorrel gebreek het. Met sy omrol op die man het hy die vuurwapen afgevat, en hom so bo-op die man gedraai dat hul gesigte enkele sentimeters van mekaar was.  Hy het in die man se oë gekyk.  Sonder dat ‘n word gepraat is het beide mans geweet waaroor dit gaan.  Gerber het met haat in sy oë gesien hoe die lewe uit die oë van die moordenaar van sy verloofde vloei.

Soos die nag van die moord op sy verloofde, het Gerber se brein weer afgeskakel.  Hy  het deur die strate gedwaal en is later terug na sy straatskuiling.  Die volgende ding waarvan hy bewus geword het was die kerkklokke.  Nou is dit kersfees.  Hy weet sy werk op straat is afgehandel, maar wat nou. Stadig staan Gerber op.  Sonder dat hy daaroor nadink, stap hy na die voordeur van die kerk.  Hy gaan sit heel agter in ‘n bank om na die diens te luister of miskien sommer net te rus.  Vir eers moet hy nie dink nie.  Hy sal later besluit wat hy met die res van sy lewe sal doen.