Wednesday, February 24, 2016

Beulblaser

deur karoogriffel

Dit wat my altyd sal bybly van dié dag, is die kort mannetjie met sy bamboesbeul.  Hy het op sy uitkyk gestaan, en hom daardie dag geblaas asof sy eie lewe daarvan afhang.  Hy het hom net een maal geblaas. Net met een lang asem, lank en diep.  Asof hy sy siel los uit sy maag uit gaan blaas.  Dit het gevoel asof die bas, lae frekwensie gedreun wat by sy beul uitkom, die spasie gevul het.  Dit was nie sommer net skielik oral nie.  Dit het van hom weg beweeg en asof sigbaar, uitgekring tot die swaar klankgolf regoor die hele baai gehang het.  Almal het dit gehoor.  Van die mense wat op die hawe gewerk het, tot die vissermanne op die rotse, tot die bruinmense in hul klein witgekalkte huisies  anderkant die groot duin.  Toe was dit skielik doodstil.  Die klank het nie vervaag nie, dit was sommer net weg.  ‘n Swanger stilte het oor die baai gehang.  Almal het tot stilstand gekom.  Dit was ‘n oomblik gevries in tyd.

Toe begin almal gelyk beweeg.  Van waar ek gestaan het het dit soos ‘n miernes gelyk, net, almal het in verskillende rigtings beweeg.  Dit het behoorlik gegons, en ek kon nie uitmaak of dit regte klanke was en of dit die vibrasie van die skielike energie was wat so duidelik hoorbaar was nie.  Mense het almal in verskillende rigtings begin hardloop.  Die hele prentjie wat hom voor my afspeel het my ontstel, aangesien ek glad nie geweet het wat aan die gebeur was nie.  Verskillende goed het deur my kop gemaal.  Was dit ‘n vorm van ‘n noodsein?  Was daar ‘n brand of dalk ‘n tsunamie op pad?  Dit het deur my kop geflits dat dit min of meer die prentjie moes wees in die dae van die Tweede Wêreldoorlog as daar ‘n lugaanval gekom het:  eers die waarskuwing en dan die geskarrel na veiligheid.

Teen dié tyd het die mense behoorlik gehardloop asof iets hul bedreig.  Binne minute het amper almal van die strate verdwyn.  Net hier en daar was iemand sigbaar.  Toe net so skielik weer was almal terug op straat – nou het almal in dieselfde rigting gehardloop.  Almal met ‘n emmer of groot skottel asook iets wat lyk soos ‘n groenerige doek of laken.  In hul haas om eerste by hul bestemming te kom, was daar aan mekaar gestamp en gestoot.  Dit was duidelik dat almal net een doel voor oë gehad het en dit was om eerste by hul bestemming aan te kom, maak nie saak wat nie.

Dit het my weer ontstel aangesien ek nog nie geweet het wat aan gaan nie, maar die inwoners van die baai was beslis haastig om iets belangriks te gaan doen.  Ek self het nou saam met die stroom beweeg.  Hier en daar het ek iemand prober vra om my te sê wat aangaan, maar hulle was almal op hul eie missie en het dit nie belangrik geag om my te antwoord nie.  Dit het nou vir my duidelik geword dat die mense op pad was strand toe.  Ek kon nou sien dat die groen material stukke visnet is. Toe daar ‘n ouer man by my verbykom, probeer ek weer: “wat gaan aan ou vriend, waarom hardloop almal?”   “Het meneer nie die beul gehoor nie”, vra die man terug, en in sy oë kan ek sien hy kan dit regtig nie glo nie.  Ek wil sê dat ek dit natuurlik gehoor het, maar weet nie wat dit beteken nie.  Die man kyk my steeds ongelooflik aan terwyl hy verder stap.  Toe hy so vyf meter van my af is steek hy vas en draai om.  Sy gesigsuitdrukking lyk soos iemand wat regtig kwaad en teleurgesteld is.  Hy stap aggressief terug tot voor my en kyk my in die oë.  “Dit is die blerrie sardyn run man!  Dit is die een dag waarop ons net kan skep.”  Sonder ‘n verdere woord draai hy om en stap weg terwyl hy nog steeds sy kop in ongeloof skud.

Teen die tyd wat ek op die strand kom lyk dit asof die hele dorp in die water is.  Knie diep staan hulle en skep met die nette.  Dan word daar uitgehardloop en die klein bliklyfies word uit die net in die emmers gegooi. Die vis wat mis val, word ook nie opgetel nie, daar is genoeg om weer te gaan haal en die mense hardloop net weer terug water toe.   Vir amper ‘n halfuur het dit so aangegaan.  Toe stop dit so stadig. Mense vat hul emmers en skottels vis en begin huis toe beweeg.  Almal gesels nou vrolik en elke gesig het ‘n glimlag op.  Die erns is verby.  Van die ouer mense en kinders loop met winkelsakke op die strand rond en tel al die blikvissies op wat die mense laat mis val het.   Selfs hier is genoeg vir almal.

Dieselfde man van vroeër kom van die water af in my rigting gestap, met ‘n groot emmer vol vis op sy skouer getel.  Soos hy nader kom glimlag hy ook nou vir my.  Hy stop voor my en sit sy emmer in die sand voor my neer. “Sien meneer, dit is waaroor dit gaan, vannaand is dit vis oor die kole en more maak ons flesse vol kerrievis wat maande gaan hou”.  Ek kan sien dat hy goed voel.  “Meneer is seker ‘n toeris.  Dit is hoekom jy nie weet nie.  Van die beulblaser en die vis”. Hy buk af emmer toe en haal drie visse uit.  “Vat die vir meneer.  Gooi hulle op growwe sout tot vannaand en dan gooi jy dit op die rooster.  Lekkerste vis was jy ooit sal eet”.  Ek steek my hande  uit en neem die vis by hom. “Dankie”.  Sonder om te groet tel hy weer sy emmer op sy skouer en stap weg.


Ek maak toe soos hy voorgestel het, en die aand sit ek langs die see, met die musiek van die branders in my ore en smul aan drie klein vissies wat deur die kort mannetjie en sy beul aangekondig was.

Tuesday, February 2, 2016

Die nag

deur karoogriffel


Dit was nog donker toe hy wakker word.  Die fosfor wysers op sy ou Big Ben alarm wys dat dit nou net na vier uur is.  Hy weet dat die tyd reg is, want hy kan die dowwe “klik-klik” van  die ou klok hoor. Hy kan nog goed onthou, hy en Adel het dit nog by die Koöperasie in Sutherland gekoop.  Dit is al amper drie en vyftig jaar gelede.  Vir die laaste ses jaar al word hy soggens alleen langs die klok wakker.  Adel is vandag presies ses jaar gelede van hom weg geneem.   

Albert kan aan sy lyf voel dat hy maar sal moet opstaan.  Dié wil nie meer so lank in die bed bly nie.  Dit is die ure tussen ses uur saans en agt uur soggens wat vir hom die langste is.  Dit is sy alleen ure.  Niemand om mee te gesels nie, net die kraak van die sink dak wat afkoel na die lang dag se hitte.
Hy en Adel het mekaar ontmoet deur gesamentlike vriende.  Dit was baie jare terug.  Hy was ‘n jong polisieman, en sy het by die plaaslike sentrale gewerk.  Hy kan nog onthou hoe hy altyd gebel het, net om te hoor hoe sy “nommer asseblief”gevra het.  Dan het hulle lekker gelag en weer gegroet.  Daar was nooit kinders nie.  Hulle het later jare daarmee vrede gemaak.  Hulle het vir mekaar geleef.  Adel het so vier jaar na die troue opgehou werk.  Hulle wou haar laat nagskof werk, en Albert was net nie daarvoor te vinde nie.  Hy het altyd gesê, “Ek het nie getrou om alleen te slaap nie”.   Van toe af was sy ‘n huisvrou.  Albert het elke dag na werk kon aansit by die lekkerste etes wat hy kon droom.   Nooit vervelig nie.  Na ete het hulle saam opgewas en dan tot laat met mekaar sit en gesels.  Hulle het ook jaarliks met verlof gegaan.  Altyd in ‘n nuwe rigting.  So het hulle saam die hele land deurkruis en leer ken.  Dit was die goeie ou dae.

In die kombuis maak hy vir hom koffie waarmee hy op die voorstoep gaan sit.  Sy polshorlosie wys dat dit nou al vyf uur is.  Die dag breek stadig vanuit die ooste.  Adel het altyd gevra of hy ook kan sien hoe die dag vanuit die donker aangerol kom.    Dit word gelukkig in die somer vinnig lig.  As die nag se donker eers verdryf is, voel hy klaar beter.  Binnekort sal die bekende gesigte weer voor die huis begin verby stap oppad werk toe.  Almal sal groet en Albert groet gretig terug.  Amper bly om sy eie stem te hoor.  Dan stap hulle verder, elkeen op sy eie pad om sy eie dag te begin.

Albert gaan was sy gesig en trek skoon aan.  Hy gaan elke dag dorp toe.  Hy stap sommer.  In die winkel gesels hy met die personeel wat al gewoond is aan sy roetine.  Hy koop brood en maalvleis.  Elke dag, net dié dag se porsie.  Dit verseker dat hy môre weer kan kom.  Terug by die huis is sy tuinman al daar.  Daar word eers koffie gedrink en bietjie gesels.  Dan word die tuinwerk gedoen.  Daar is nie baie nie, aangesien hulle dit elke tweede dag doen.  Bietjie onkruid uittrek, natmaak, en een of twee plantjies in ‘n potjie uitplant of verplant.  Dan middagete wat Albert voorberei en die twee saam agter by die tuin tafel sit en eet.  Na ete vertrek die tuinman en Albert gaan rus ‘n bietjie in die kamer op die bed, weg van die hitte af.  Hy slaap nie, dit is reeds moeilik genoeg om die nag deur te slaap.

Teen vier uur is Albert weer buite met sy koffie.  Van nou af begin die mense weer almal huis toe stap.  Weer dieselfde ou gesigte.  Weer die groet en die woordjie hier en daar wissel oor die dag.  Dan verdwyn hulle weer elk na sy eie huis waar sy huismense vir hom of haar wag.  Albert sit hier tot die laaste mense veby is.  Dit is sy geselskap.  As hy op sy horlosie kyk en sien dit is nou na ses, weet hy dit was dit vir die dag.  Nou kom die lang stil en alleen aand.  Hy stap maar in en sluit die deur agter hom.

In die kombuis gaan sit hy by die tafel.  Hy sal nou-nou die bietjie maalvleis van vanmiddag  warm maak en saam met ‘n broodjie eet.  Sy oog vang die radio en vir n oomblik oorweeg hy dit om dit aan te sit, maar hy weet al dat dit nie sal werk nie. Die radio doen iets aan die gehoor apperaatjie in sy oor wat maak dat hy liewer die stilte verdra.  Hy kan ook nie meer lees nie. Die bril werk nog vir ver sien, maar lees is ‘n ander storie.   Hy rek die aand so lank as moontlik voor hy eet, want hy weet al:  as hy klaar opgewas het wil hy nie meer hier sit nie.

As hy klaar opgewas het gaan hy stort.  In die kamer sien hy dat dit al amper half nege is.  Hy het vanaand goeie tyd opgemaak.  Hy sal maar gaan lê.  Snaaks, met die lig af, hoor hy die dakplate kraak soos dit afkoel.  Hy weet nie hoe lank hy so gelê het nie.  Soos elke aand het die alleen weer swaar in hom kom lê;  dit was asof dit fisies gepyn het.  Die verlange was groot.  Hy het weer gevoel asof die pyn van die alleen en verlang regtig in sy hart was.  Uiteindelik het hy ingesluimer.  Sy asemhaling was so swak dat dit nie hoorbaar was bo die “klik-klik” van die ou Big Ben langs die bed nie.  Die wysters van die klok het stadig deur die nag ure gedraai.  Dit was later na vier maar Albert sou nie weer wakker word nie.  Die pyn is verby.  Hy sal nooit weer deur so lang donker aand alleen hoef te sit nie.  Toe die mense die oggend voor sy huis verby stap, op pad werk toe, het so drie of vier gewonder hoekom Albert nie vanoggend op die stoep sit nie.