Tuesday, June 21, 2016

Mooie Mariet

Mooie Mariet

deur karoogriffel

Mariet is hier op die dorp gebore.  Haar ma en pa ook.  Haar pa het die winkel voor haar gehad.  Dit was moeilik om te sê wat hy nou eintlik verkoop het - so iets van dit en ‘n bietjie van dat. Tog het hulle altyd geld gehad.  Nie baie nie, maar hulle het nooit aan iets tekort gehad nie.  Almal op die dorp het van hom gehou en graag by die winkel omgegaan.  Nooit by die huis gaan kuier nie, altyd maar by die winkel.
Haar ma was soms huisvrou en soms winkel assistent.  Ook ‘n vreemde vrou, vriendelik maar baie stil.  Hulle was maar huishoenders, baie privaat en altyd op hul eie.  Klein Mariet was altyd by haar ma of pa.  As kleintjie sommer agter die toonbank op ‘n kombers en later as klein dogtertjie altyd aan ma of pa se hand.  Sy was van kleins af mooi.  Lang bruin hare wat so wil-wil na blond neig.  Mooi groot oë en vol mond. Lank op die been ook.  Sy was ook altyd vriendelik en nogal slim ook.  Almal het altyd gedink sy sal na skool gaan leer.  Haar ouers het haar so half snaaks groot gemaak.  Dit het altyd gelyk asof daar geen reëls was nie. Tog was sy baie mooi gemanierd en nooit in enige moeilikheid nie.  Almal het van haar gehou.
Daar was egter van altyd af iets snaaks omtrent die kind.  Mense het daaroor gepraat maar kon nooit hul vinger daarop lê nie.  Soms was sy klein, en dan weer sommer ‘n regte grootmensie.  Altyd besig met stories skryf of prente teken.  Nogal goed ook.  Die skool wou soms van haar werk vir kompetisies inskryf, maar sy het altyd geweier.  Baie kennisse gehad, maar ook baie alleen.  Sy was maar altyd in haar eie wêreld.  As kind al, altyd soos ‘n gypsy aangetrek met goed in die hare gevleg, armband en baie krale en hangertjies.  En dan haar oë.  Daardie groot geel groen oë. Dit het altyd gevoel asof sy in jou, of in jou lewe kan inkyk en alles sien.
Sy was ‘n laatlam. Toe Mariet klaar maak met skool was beide haar ouers al aan die ouer kant.  Nie meer lus vir  werk nie.  Mariet, wat toe al baie gereeld in die winkel gewerk het, het toe te vertelle dat sy haar ouers vir ‘n jaar wil uithelp sodat hulle kan rus voor sy aanbeweeg in die lewe.  So het sy die winkel oorgevat.  Stadig maar seker het die “te-kope” in die winkel verander.  Die dorpsmense dit steeds besoek en daar gekoop of sommer met haar gaan gesels.   Toeriste ook.  Die eerste ding wat sy gedoen het was om die binnemure te verf.  Die agterste muur so diep fluweel wynrooi, en die ander mure amper die kleur van heuning.  Dit was mooi en het die atmosfeer in die winkel ten goede verander.  Toe het die aanbieding begin verander. Juwele en krale wat sy self geryg het.  Altyd iets vreemds en anders as wat jy ooit sou verwag, maar mooi en smaakvol.  Volgende het sy begin met die klere.  Blykbaar self ingevoer van ‘n vreemde ver land.  Iets tussen  hippie en gypsy.  Mooi goed, baie gewild by almal.
Saam met die winkel het Mariet ook verander.  Sy het nooit saam met die ander jong mense uitgegaan nie.  Stiller geword en haar meer tot die huis gekeer.  Altyd doennig met haar eie.  Die jaar het later drie geword.  Mariet se ma, en toe haar pa, is kort hierna oorlede, niks meer as twee maande uit mekaar nie.  Stil, so amper sonder rede.  As jy vir Mariet gevra het daarna het sy altyd dieselfde geantwoord: “My pa het gesê dat hulle klaar is en dat ek nou reg is om op my eie aan te gaan”. 
Mariet het in die huis aangebly en die winkel bly bedryf.  Sy het begin om half-edelstene en kristalle aan te koop en te verkoop.  Sy was ook heel kundig op die gebied en kon jou als daaroor  vertel, van waar dit vandaan kom, tot die “helende” eienskappe van die stene.  Sy het  altyd met ‘n pendulum rondgeloop en het als daarmee getoets. Niemand het geweet of dit ‘n nuwe ding van haar was en of sy dit maar altyd gedoen het nie. Toe volg die kruie en die gesondheids produkte.  Sy het gesê dat die pendulum haar in die rigting gewys het.  Ook hieroor het sy baie kennis gehad en heel gou het die dorpsmense haar om haar raad gevra en die produkte begin koop.  Die ouer inwoners van die dorp het te vertelle gehad dat sy die kennis van die kristalle en stene by haar pa geleer het en die kruie by haar ma.  Hulle was glo kundiges op hul gebied.  Daar is nou al na haar verwys as “mooi Mariet, die gypsy”.  Hulle het haar respekteer en geglo dat sy bo-natuurlike kennis van die kristalle en kruie het.  Hoewel die toeriste die winkel aanvanklik besoek het omdat dit interessant was, het die stories nou al oor die dorpsgrense geloop en het hulle haar ook kom opsoek vir raad.

Intussen het Mariet net mooier geword. Vreemder aangetrek en meer handgemaakte armbande en juwele gedra.  Steeds met die mooiste langste hare.  Nooit in verhoudings belang gestel  nie en nooit getrou nie.  Sy was maar altyd net Mariet. Die jare het gekom en gegaan.  Mariet het ouer geword, maar dit nooit gelyk nie.  Die mense reken sy was agt en veertig toe dit gebeur het.  Een oggend het die winkel net nie oopgemaak nie.  Op die deur was net ‘n nota: “Ek is ook klaar”.  Net dit.  Niemand het haar ooit weer gesien nie.  Mooie Mariet was net weg.  Weg, want sy was klaar.

No comments:

Post a Comment