Sunday, June 19, 2016

Uit die verlede

Uit die verlede
Deur karoogriffel

Sagte Franse musiek, gemeng met die geur van goeie koffie, skep ‘n rustige atmosfeer in die koffiewinkel. By al die tafeltjies sit mense. Sommige vrolik en amper luid, ander rustig besig met hul eie sake.  Dit is eers as jy dieper die winkel instap dat jy die stil man alleen agter in die winkel by sy eie tafel sien.  Hy is groot, met lang hare en ‘n bosbaard wat maak dat jy nie sy gesigs uitdrukking behoorlik kan bepaal nie.
Anneline stap vinnig op hom af. Sy is lank en skraal met lang rooi hare wat op haar heupe hang.  Die hakke van haar skoene “klik” duidelik tussen die stemme van die geselsende mense op.  Die netjiese snyerspakkie wat sy aan het gee haar ‘n profesionele voorkoms.  Sy kom reg voor die tafel tot stilstand en steek haar hand na hom uit.  “Ek is Anneline, ek neem aan dat jy Waldo is”.  Hy kyk nie op nie, maar sê duidelik,”Walter”.  “As-skies” vra sy, in ‘n stemtoon en gepaardgaande gesigsuitdrukking  wat dit duidelik stel dat sy nie gewoond is daaraan om deur ander tereggewys te word nie.  Eers nou kyk hy op, en antwoord rustig maar duidelik, “ Jy het gevra of ek Waldo is, toe help ek jou reg en sê Walter. My naam is Walter en die feit dat jy Anneline is, beteken dat dit wel ek is na wie jy soek.  Jy is die prokureurtjie wat na baie jare skielik haar ma begin soek, en ek is die privaatspeurder wat haar vir jou gaan opspoor.  So, noudat ons altwee weet wie is wie, en wat jou verwagting is, sit dan bespreek ons my koste”.
Anneline is skoon uit die veld geslaan deur die man se amper onbeskofte maniere en die feit dat hy met haar praat asof sy ‘n kind is.  Sy staan nog steeds met haar hand na hom uitgestrek, maar wonder nou of sy nie net hier moet omdraai en wegstap nie.  Voor sy kan besluit, staan hy op en trek vir haar ‘n stoel oorkant hom uit.  Hy druk haar met sy hand op haar skouer daarin plat.  “Koffie?” vra hy en gaan self weer sit.  Hy wag nie vir haar antwoord nie, maar wink die kelnerin nader en bestel koffie. “Bring sommer ‘n paar toebroodjies saam.  Ham en kaas!” beveel hy die kelnerin en voeg amper as nagedagte by: “sy is my kliënt, en die kliënt betaal vir al my uitgawes.”  Nou wend hy hom weer na Anneline wat nog nie ‘n woord kon inkry nie. “ My tarief is duisend twee honderd per dag plus al my uitgawes aangegaan in die uitvoering van die taak.  Ek neem aan dat dit jou pas?  So, vertel my als wat ek moet weet.  Begin by jou geboortedatum en plek van geboorte en “ …  Anneline luister nie meer nie.  Toe die kelnerin terugkom met die bestelling hou die man voor haar op met praat.  Dit gee haar die oomblik om tot verhaal te kom.  Sy wag haar kans mooi af en toe die kelnerin omdraai en wegstap spring sy hom netjies voor. “Walter is dit?” sê-vra sy.  Nou kyk, Walter, as ek jou kliënt is, of gaan wees, behandel my dan asseblief voortaan soos ‘n kliënt”.
Walter sit en kyk haar stil aan, sonder om haar te probeer onderbreek terwyl sy behoorlik teenoor hom uitvaar oor sy sogenaamde aannames en gebrek aan maniere.  Toe sy uiteindelik klaar is, vra hy ongestoord, asof die tussenspel glad nie plaasgevind het nie:  “ ‘skies, ek het nou nie mooi gehoor wat jou plek van geboorte was nie.  Sien, dit sal maar die logiese afskoppunt in die ondersoek wees”. Anneline kan haar ore nie glo nie.  Het hy nou net mooi niks gehoor van haar aanmaning nie of gee hy net nie om nie?  Hy begin dan sommer net weer waar hy opgehou het.  Sonder dat sy dit bedoel antwoord sy hom tog. “Prins Albert, op die drie en twintigste September negentien een en negentig”.  “Mooi, sê hy nou, dit is ‘n klein plekkie, en al is dit lank terug, ons sal haar opspoor”.   Anneline wil eers iets sê oor die aanmerking van “lank terug”.  Dink hy dalk sy is oud?  Maar sy bedink haar liewer.
Hy het nog ander besonderhede gevra en soms aantekeninge daaroor gemaak.  Toe hulle klaar is het sy die kontrak wat hy na haar uithou geteken waarna sy gegroet en weggestap het.  Sy dink weer aan die man se manier van dinge doen.  Hopelik kry hy darem resultate.  Sy besluit egter om voortaan liewer per e-pos of as dit moet, telefonies met hom kontak te hê.  Sy het regtig nie lus vir enige herhaling van die dag se episode nie.
Dit is nou al amper ‘n week na hul ontmoeting en daar was nog geen nuus van Walter nie.  Sy het maar so pas by die woonstel gekom na ‘n besige dag op kantoor.  Haar ongemaklike skoene het sy sommer by die deur al uitgeskop en in die kamer haar snyerspakkie vir ‘n groot ou T-hemp verruil.  Nadat sy vir haarself ‘n glas koue witwyn geskink het, is sy uit op die balkon waar sy neergeplons het op een van die twee groot ou bamboes stoele.  Sy het net begin om die sonsondergang te geniet toe die deurklokkie lui.   Vir ‘n wyle het sy dit oorweeg om nie te gaan oopmaak nie.  Sy het rus en vrede nodig na die spannende dag op kantoor.  Sy staan tog maar op en stap deur toe. Sy is so moeg dat sy nie eers soos gewoonlik deur die loergaatjie kyk om te sien wie dit is nie.  Sy maak sommer net oop.
“Grote Griet! So jy kan soms soos ‘n gewone mens aantrek en sommer net jou ore laat hang.”  Dit is Walter wat voor haar staan, en soos sy hom nou al by die eerste ontmoeting leer ken het, maak hy maar weer net soos hy wil.  Hy stap amper bo-oor haar die vertrek binne sonder dat hy groet, sê hoekom hy hier is of dat sy hom innooi.  Hy maak die deur agter hom toe, en begin sommer deur die leef area stap. Hy sien die oop balkon deur en stap daar uit. “ Magtig, maar jy het ‘n mooi uitsig van hier!  Kom ons sit sommer hier.  Bring vir my ook ‘n glasie wyn, rooi as jy het, wit gee my sooibrand”.  Annelien is weereens uit die veld geslaan.  “Ja, kom gerus binne en maak of dit jou plek is. En ek gee nie om dat jy my rond order asof ek jou slaaf is nie, my heer en meester”, sê sy so sarkasties as moontlik.  Hy sit egter al en sy stap maar kombuis toe om vir hom sy drankie te gaan gooi. “Ek hou van jou skrapse kleredrag”, sê hy met ‘n groot glimlag op sy gesig toe sy die glas oorhandig.  Anneline besef nou eers dat sy net ‘n lang T-hemp aan het, maar weier om hom te laat sien dat dit haar pla.  Toe sy gaan sit, vra sy hom wat die rede vir die besoek is.  “Jy het my gehuur om iemand op te spoor en ek is dus hier om terugvoer te gee”.  Nou eers sien sy die groot bruin koevert wat op sy skoot lê.
“Anneline, vra hy en noem haar nou vir die eerste maal op haar naam, vertel my eers, was jy ‘n weeshuiskind of het jy by aanneem ouers groot geword?”  Sy wil eers vra wat presies dit met die opdrag uit te waai het, maar bedink haar weer en antwoord:  “Ek is aangeneem direk na geboorte.  Ek het in Durbanville by my stiefouers groot geword”.  Terwyl sy praat verskuif haar blik na die ondergaande son. Sy vou haar voete op die groot stoel onder haar in en Walter kan sien dat sy rustig word terwyl sy nou vertel sonder dat hy verder hoef te vra.  “Hulle was goeie mense en ek het ‘n baie gelukkige kinderlewe gehad.  Nooit iets te kort gehad nie, veral nie liefde nie.  Na skool het my ouers my universiteit toe gestuur en daarna my met die woonstel wat hulle vir my gekoop het verras.  Hulle was wonderlike mense”.  Sy bly stil en Walter kan sien dat sy emosioneel geraak het. Na ‘n rukkie van stilte vra hy sag,    ” Was?”  Annelien draai nou haar kop in sy rigting asof sy skielik weer besef dat hy langs haar sit.  “My ouers is drie maande gelede in ‘n motorongeluk oorlede.  Albei, op slag.  Dit is hoekom ek nou weer soek na iemand om my eie te noem.  My biologiese ma het geklink na ‘n opsie.  Weer het dit stil geraak tussen hulle.
Walter tel die koevert op, maar gee dit nie vir haar aan nie.  “Ek het jou ma opgespoor. Voor ek dié vir jou gee, wil ek egter eers weet:  gegewe jou goeie herhinneringe aan jou kinderlewe en jou aanneem ouers, die geluk wat jy tot nou onlangs beleef het, en hoe jy jouself sien en ken, wil jy regtig die risiko loop om ‘n verlede oop te krap wat jou lewe op sy kop kan draai?”  Anneline wil antwoord, maar hy wys haar om te wag. “Kom ek vertel jou deel van die feite wat ek nou ken en dan dink jy daaroor.  Jou biologiese ma is self ses jaar gelede oorlede.  Daar is dus regtig geen kans om met haar herenig te word nie.  Sover jy dus nou weet het jou aanneem ouers en jou biologiese ma reeds gesterf en daar is niks wat jy daaraan kan verander nie.  Jy ken reeds jou verlede en het goeie herhinneringe daarvan.  Ek vra jou weer, wil jy regtig die risiko loop om nie te hou van wat in die koevert opgesluit is nie.”
Nou sit Anneline sonder woorde.  Sy kyk na die laaste strepie van die son soos dit onder die horison verdwyn.  In stilte sit hulle so tot dit donker is.  Nou staan sy op en stap binne-toe. Toe sy uitkom het sy ‘n sweetpak aan en die bottel rooiwyn in die hand.  Sonder om te vra gooi sy weer vir hul albei  ‘n drankie.  Sy gaan sit op die stoel langs hom.  Eers nou praat sy weer.  “Is dit so sleg?”  Walter wag so rukkie voor hy antwoord, “ek het nie gesê dat dit sleg of goed is nie, ek sê net dat jy vandag net mooi herhinneringe in jou lewe het en dat hierdie inligting, goed of sleg, dalk net meer hartseer sal bring”.

Hulle het seker nog ‘n uur so gesit en gesels oor ander dinge.  Walter het haar so een en ander oor homself vertel en hy het haar bietjie oor haar lewe buite die kantoor uitgevra.  Toe hy uiteindelik opstaan om te vertrek, het hy die koevert na haar uitgehou.  Anneline het gemaak of sy dit nie sien nie, en hom gevra wat sy hom skuld.  Walter het verstaan dat sy besluit het om nie die koevert te vat nie. “ Ek sal die rekening aan jou pos” het hy gesê, haar hand geskud en vertrek.  Sy het skielik besef dat sy hom nie weer sal sien nie en dat hy ook nie die rekening aan haar gaan stuur nie.  Toe sy die deur toedruk het sy met haar rug teen dit gaan staan, en dink oor die vreemde man wat nou net hier uit is.        

2 comments:

  1. Rhyno ek het dit nou baie geniet, mooi soos altyd!!!

    ReplyDelete
  2. Aggeneeee .... waar is die opvolg??

    ReplyDelete