Sunday, July 24, 2016

Blikkkiesdorp se mense

Blikkiesdorp se mense
Deur karoogriffel
Blikkiesdorp  is nie ‘n regte dorp nie.  Dit is die lokasie.  Al die “grand“ plekke en regte besighede is in die regte dorp met sy teerstrate.  Daar waar die witmense bly.  Hier in Blikkiesdorp is net twee “mobiles”, die “container” waar die oom hare sny en ook nog die “shebeen”.  Van die “shebeen” mag niemand praat nie, hy is onwettig.
Al die huise in Blikkiesdorp lyk eenders.  Klein vierkantjies met twee vensters en ‘n deur.  Meeste mense het aangebou.  Met sinkplaat en plank.  Dit is ook onwettig, maar niemand gee om nie.  Die huise is in die somer hel warm en in die winter so koud soos ‘n yskas.  Die huise kom nie met plafonne nie en die sinkdakke werk jou gal regdeur die jaar.  Hier is net grondstrate.  Stofpad, soos die anties dit noem.  Hulle sê as hulle die wasgoed oor die heining hang en die poliesbakkie jaag verby, kan jy maar gaan oor was.  Die polisie bakkie ry te veel stof op omdat hy altyd te vinnig ry.  Hier is ook nie padtekens nie.
Deur die week is dit maar stillerig in Blikkiesdorp.  Die meeste van die grootmense werk, kinders is in die skool en die oumense moet by hul huise bly.  Amper elke gesin het ook  ‘n voorkind waarna die grootouma bedags moet kyk dat die kindma kan skool loop.  Saans kom die grootmense moeg gewerk huis toe en moet die kinders verby kom.   Vroeg eet en hulle dan self in die kom gaan was en bed toe.  As ma eers die gordyn tussen die kinders se kooi en haar en pa se bed toe getrek het, moet die kinders stil wees.  Dit is nou grootmens tyd.
Naweke is dit anders.  Vrydag  “pay” die meeste mense en dan word daar kos en bier gekoop.  Almal is vrolik en daar is meer vryheid.  Dit is asof daar sommer ‘n ander “vibe” oor Blikkiesdorp kom.  Die kinders, klein en groot  word toegelaat om tot laat in die strate tussen die huise te speel.  Die groter kinders loop rond en kuier oor en weer waar toesig minder is. Oral speel musiek en almal is vrolik.  Die grootmense maak vuur en drink hul bier.  Almal ken mekaar en daar is ‘n groot kuier.  In en om die huise en sommer in die straat.  Die een met die meeste bier het die meeste vrinne vir die aand.  Eindelik het almal maar ewe min, maar op ‘n Vrydag aand is dit een gemeenskap en almal deel met almal.
Later vanaand as die bier op is en die vure uitgebrand is gaan die pa’s slaap.  Die ma’s begin in die straat na die kleiner kinders soek.   Vannaand was hulle nie, hulle word sommer net afgestof.  As die kleintjies in die kooi is word daar koffie gemaak.  Oral staan buurvroue met koffiebekers in die hand sommer so oor die draad en gesels.  Hulle wag vir die groter kinders om huis toe te kom.  Dit raak laat.  Die ma van een of twee wonder wat die kind gedoen het en of daar weer ‘n voorkind op pad is.  Ai die meisiekinders.  Ten minste kom daar saam met elke voorkind darem ook weer “grant money”.
Op Saterdag word almal bietjie later wakker.  Dit is dorp toe gaan dag.  Almal trek mooi aan en die hele gesin gaan “regte dorp” toe.  Hier en daar loop ‘n kleintjie so ent agter die ander, huil-huil omdat hulle moeg gestap is, maar niemand gee om nie.  Soms sal die ma omdraai om op die kleintjie te skree, maar niemand gee aandag nie.   In die dorp is dit weer ‘n vrolikheid.  Pa kry weer iets om te drink, en ma en kinders gaan in elke winkel in.  Nie om te koop nie, sommer net om te kyk.  Voor hulle huis toe gaan kry die kinders iets lekkers van die kafee en pa koop weer iets vir vannaand.
Teen een uur is al die winkels op die regte dorp toe en Blikkiesdorp se mense is huis toe.  Nou word daar weer in die strate gespeel, rondgeloop en dié wat motors het was hom dat hy blink soos ‘n bottel.  Al die vrouens het hare gewas vir Sondag en loop nou met krullers in die kop rond.  Die mans sit buite in die koelte en domino’s speel terwyl hul bier drink en rugby oor die radio luister.
Sondag staan almal vroeg op.  Daar word gewas en die kisklere word aangetrek.  Net so na nege gaan die huisies se deure oop en die gesinne begin kerk toe stap.  Op pad word daar ewe stemmig gesels.  Die kerk sit stampvol.  Dominee preek weer uit volle bors en maak seker dat almal weet hoe sondig hulle is. Hy vertel hulle dat die Jirre alles weet en alles kan sien.  Van hul sonde tot in hul sake.  Hy verseker hulle ook dat die Jirre hulle maar weer alles sal vergewe.  Amen, dreun dit deur die gemeente.   Dan sing hulle.  Kliphard en met gevoel.  Hulle is dankbaar, want hulle is vergewe.  Party klap hande terwyl ander met hul hande bo hul koppe wuif.  Amper asof jou sondes witter gewas word as jy harder sing.  Dan is dit tyd vir die offers.  Dominee gaan staan self voor met die groot silver kruik.  Nou word almal wat ‘n blaartjie het wat kan “waai” genooi om na vore te kom en vir die Jirre te offer.  In ‘n lang ry kom hulle aan, almal met ‘n geldnoot in die hand, terwyl dominee hulle seën.  As die laaste een in die ry klaar is, gaan dominee sit en een van die diakens kom staan met ‘n sak sodat die wat net munte het om te offer hul beurt kan kry.  Hulle word ook nie geseën nie.

Na kerk is dit huis toe.  Op ‘n Sondag middag is Blikkiesdorp stil.  So asof almal besef, môre is Maandag. Dan begin als weer van voor af.  Vyf dae van werk en moeilikheid.  Nog vyf dae na Vrydag toe, dan leef ons weer! 

Saturday, July 16, 2016

Afpak

Afpak
Deur karoo griffel
Dit is snerpend koud en die wind waai dit met mening van die sneeu bedekte Swartberg af tussen die lae Karoo bossies deur.  Sy asem verys letterlik in die hare van sy snor.  Dit voel vir hom heeltyd asof sy neus loop.  Die wind laat sy oë traan en hy kan lankal nie meer sy vingers voel nie.  Hy dink daar is nou nog so vyftien minute se stap huis toe.  Dan kan hy voor ‘n warm vuur gaan sit.
Hy weet dat niemand anders sy plek ‘n huis noem nie, maar vir hom is dit sy huis.  Al is dit net een groot vertrek met ‘n deur in die middel en twee venster openinge aan weeskante daarvan.  Daar is ook geen glas voor die vensters nie, net houtluike wat van buite oopmaak.  Aan die een kop van die vertrek staan sy bed met ‘n tafeltjie vir die kers langsaan, en aan die ander kop is ‘n groot ou vuurherd.  Voor die vuurherd staan ‘n ou leerbank.  In die middel reg voor die deuropening staan ‘n geelhout kombuistafel en twee stoele.  In die somer dra hy die tafel uit tot onder die wilgerboom waar hy dan sit en skryf.  Hy wou nooit meubels bring nie.  Dit raak later goed wat mens bind.
Soos hy nou stap, swets hy onderlangs en dink dat hy maar die bakkie moes gevat het om die goed langsaan by Neels te gaan haal.  Dit is maar so vyf kilometer as jy hier oor die nek steek, maar nogtans, dit is nou verdomp koud.  Boonop raak die rugsak swaar.  As Surina ook net nie so laat van die dorp af terug gekom het nie.  Nou nog kos maak ook.  Sy het natuurlik weer sit en kuier.  Hy besef dat hy nou onredelik is.  Sy het hom ‘n guns gedoen en hy het die proviand nodig gehad.  Hy het al so lank lus vir vars vleis.
Hy is nou al net mooi drie maande aaneen hier op Afpak.  Hy bly gewoonlik nie so lank nie. Langnaweke of so week op die langste.  Maar die laaste tyd was hy so keelvol van al die dinge in sy lewe dat hy besluit het om ‘n lang wegbreek te maak.   Hy val amper toe sy voet agter ‘n plantwortel haak.  Dit is nou sterk skemer en hy wens hy was al by die huis.  Hy sal dadelik ‘n vuur in die vuurherd pak en sommer so vleisie braai.  ‘n Aartappel of twee in die pot gooi, wat ook sommer daar op die kole gaar word.  Hy sal rustig op die bank voor die vuur gaan sit.  Glas rooiwyn in die hand en sy pyp.  Na ete sal hy nog hout opgooi en tot ounag in die vuur staar.  Dit is gewoonlik sy tyd van voorbereiding vir die volgende dag se hoofstuk of dalk twee.  Hy sal daar sit en soms aantekeninge maak in sy boek, sommer so in die ligglans van die vuur.  Dit bietjie herkou en môre as die son skyn, slaan hy dit op skoon wit papier met die ou tikmasjien uit.  Nie dat hy kan tik nie, maar so met die twee vingers tel hy nogal spoed op.  Miskien sal hy môre die tafel omdra en voor teen die muur in die son gaan sit en werk.  Verbeel hy hom, of voel hy sommer nou bietjie warmer omdat hy nou aan die vuur en môre se son dink.
In die swak lig vorder hy nou stadiger as wat hy gedink het.  Dit is nog maklik so kilo huis toe.  Dit sou lekker gewees het as die vuur al gebrand het as hy daar aankom.  As Erika daar op hom gewag het en hulle ‘n lekker aand voor die vuur kon deurbring.  Erika . . .  hy word sommer weer kwaad. Vroumense.  Hoekom die Bybel hulle “ ‘n maat” vir die mens noem, sal hy nooit verstaan nie.  ‘n Maat is iemand wat dinge saam met jou wil doen.  Wat saam met jou oor die toekoms kan beplan. Nie vroumense nie.  Hulle het hul eie prentjie van die lewe en dan nog hul eie agenda daarvoor ook. Hy is ‘n skrywer.  Dit is wat hy doen.  Daarvoor moet hy hom afsonder en daarvoor het hy “ Afpak”  gekoop.  Juis omdat dit ver van alles is en hier nie TV en ander snert is wat jou aandag aftrek nie.  Juis daarom wil hy die huis minimalisties hou.  Daarom soek hy nie ‘n tuin nie.  Wat daaraan kan sy nie verstaan nie?  Nee, sy wil flenter van een sosiale geleentheid na die ander.  Wil alewig mense oornooi of êrens gaan kuier.  Wil in die stad bly.  Wil die plaas omskep in ‘n oord waarheen sy gaste kan nooi.  Hy wil nie mense hier hê nie!  Is dit te veel gevra?
Dit raak nou goed donker en hy kan nog nie eens die wilgerboom se top sien nie.  Hy is nou sommer gatvol gestap, en die koue doen niks om dit beter te maak nie.  Sy denke oor Erika en haar konstante geneuk in ander rigtings het hom sommer nou weer van voor af kwaad.  Hoekom kon sy nie die “maat” wees wat sy veronderstel was om vir die “mens” te wees nie.  As die Bybel daaroor kan lieg, lieg dit seker oor ander sake ook.  Haar geaardheid, en optrede het baie verander van hoe dit was toe hulle ontmoet het.  Ag, bogger haar.   Sy kan gaan vlieg.
Skielik besef hy dat hy op die werf op gestap het.  Hy kan in die laaste bietjie van die dag se lig sien dat sy venster oop staan.  Dit beteken dat dit nou soos ‘n yskas daarbinne voel.  Hy stap sommer eers by beide vensters om en maak hulle goed toe voor hy die deur gaan oopmaak.  In die flikkerende vlammetjie van sy zippo stap hy na die tafel en steek die kers aan.  Hy haal die rugsak af  en begin die goed op die tafel uitpak voordat hy dit op die rakkie langs die vuurherd pak.  Nou steek hy die vuur op.  Hy staan so rukkie by die vuur om seker te maak dat dit goed brand en sommer ook om bietjie hitte op te tel.  Toe die vuur lekker brand gaan gooi hy vir hom ‘n glas rooiwyn, vat sy pyp-goed en gaan sit gemaklik op die bank.  Hy staan eers weer op en trek dit nog nader aan die vuur. Nou gaan hy rustig deur die ritueel van pyp skoon maak, stop en opsteek.  Die vuur het die vertek nou so ietsie warmer, die rooiwyn smaak goed en hy geniet die pyp.  Hy sal nou-nou kole eenkant toe krap en die skaaprib opsit.  Sy gemoed is sommer ligter.  Hy dink ook nie meer aan Erika nie.  Sy het haar keuses gemaak.

Na ete gooi hy nog hout op die vuur, skink nog ‘n glas wyn en gaan sit weer met sy pyp.  Wat meer wil hy uit die lewe hê?  Miskien het hy nie ‘n maat nodig nie.  Hy is ‘n skrywer en leef in alle geval in sy eie wêreld.  In sy wêreld is dit wat hy hier het vir hom genoeg.