Wednesday, August 10, 2016

Trein na herhinnering

Trein na herhinnering
Deur karoogriffel

Klik-ke-te-klak, klik-ke-te-klak, klik-ke-te-klak.
Die eentonige klank van die treintrok op die spoor soos hy deur die bloedig warm karoo ry.  Ek sit kaal bolyf op die trap terwyl ek die deur met my rug oop hou.  Die kondukteur het al net buite Worcester gewaarsku dat hy my op Matjiesfontein van die trein gaan afsit as ek nie ophou daarmee nie.  Hy is min of meer my ouderdom, en toe ek hom sê dat ons destyds  troepetrein so gery het, het hy net gesnork en aangeloop.
Dit voel nou soos gister wat ek op was Pretoria toe vir sielkundige keuring.  Almal wat vir die eenheid aansoek gedoen het moes vir keuring gaan.  Ek kan onthou hoe ons op De Aar oorgestaan het om te wag vir die aansluiting van Port Elizabeth.  Almal is oor ‘bar’ toe.  Die Hotel De Aar.  Dit was die een bier na die ander.  Jy het gevoel asof jy die hitte kon weg drink.  Toe die trein uiteindelik weer trek was daar omtrent twaalf meisies op wat van die Baai kom.  Hulle was almal jong haarkapsters wat hul “trade test” in die baai moes gaan skryf.  Jy kan jouself net indink.  Ons was seker so tien dienspligtiges en hier word ons geseën met twaalf jong meisies om die pad mee korter te maak.   Ek was die enigste een met rang en kon letterlik kies tussen vier of vyf van hulle.  Vir die eerste twintig minute van die rit het amper almal in die smal gangetjie staan en gesels.  Meeste van die ouens kaal bolyf weens die hitte en natuurlik te veel bier.  Toe begin die manne so een na die ander met ‘n meisie in ‘n kompartement verdwyn.   Ek onthou nog, ons was vier-vier in die kompartemente.   Dit was kort nadat die film “Officer and a gentleman” gewys het, en ek neem aan al die meisies het maar drome gehad, en seker  kort daarna ‘n kind.  Ek het die meisie wat by my agtergebly het genooi om saam met my buite op die trap te gaan sit. Net soos nou.  Ek het in die deur gesit en sy voor my.  Later het ek een van die troepe gekry om vir ons bier te gaan koop.  Ons het daar gesit tot amper twee uur die nag.  Niks gesels nie, dit raas te veel, sommer net gesit, ek met my arm om haar nek.  Sy stil.  Net kort-kort omgekyk en “gesmile”.
Die warm lug droog nou my lippe uit en dit voel asof ek vuil swart stof tussen my hare voel.  Ek staan op en loop in na my kompartement wat ek met twee ander mans deel.  Die een lê en slaap terwyl die ander deur ‘n tydskrif van ‘n aard kyk.  Ek gaan sit op die bankbed met sy groen leer.   Ons is so uur terug deur Beaufort Wes, en dit is nou al donker.  Jy kan nie meer buitentoe sien nie, net jou eie weerkaatsing in die venster.  Sonder om te vra skuif ek die venster oop dat die wind kan inkom en ek kan uit sien.  Ek kan sien dat dit die man wat sit en lees geïrriteerd raak, maar ek gee nie om nie.  Ten minste kan ek nou weer die wiele op die spoor hoor:  klik-ke-te-klak, klik-ke-te-klak.
Ek dink weer aan die aand meer as vyf en twintig jaar gelede.  Ek het nooit  eers haar naam gevra nie.  Al wat ek kan onthou is dat sy oulik was, met lang blonde hare.  Seker gekleur – sy was mos ‘n haarkapster. Sy het saam met my na my kompartement gegaan en ons het saam op die bankbed gaan lê.  Toe ons wakker word het ons die buitewyke van Pretoria gesien.  Sy is gou na haar bagasie toe, waarna ons saam gaan koffie drink het.  Op Pretoria stasie het ek haar gegroet en voorspoed met haar loopbaan as haarkapster toegewens.  Ek kon sien sy wou telefoon nommers of adresse uitruil, maar ek het gemaak asof ek nie weet nie.  Ek het haar op die mond gesoen, omgedraai en weggestap.  Ek kon voel hoe sy my agterna kyk, maar ek het ander planne gehad.
Nou het die lewe ander planne met my.  Ek sit juis nou hier omdat ek graag weer die treinrit wou doen. Die plan is om net weer die volgende trein terug te vat.  Ek het na diensplig gaan werk, en deeltyds studeer.  Met harde werk en bietjie geluk het ek myself vinnig in ‘n goeie beroep bevind.  Goeie geld verdien en vinnig ‘n naam vir myself gemaak.  Toe volg die gewone dinge van trou, huiskoop en begin spaar vir oudag.  Dit het vir amper agt jaar goed gegaan, toe ontspoor my lewenstrein.  Ek kon die werk nie meer vat nie.  Die huwelik was vir my erger as ‘n tronk.  ‘n Vrou wat net wou kompeteer met haar vriendinne oor die grootste huis en duurste motor.  Toe besluit ek om als op te gee, en aan te beweeg. Eers het ek vir twee maande op ‘n vriend se plaas in die Karoo gaan bly.  Hier het ek die ou liefde vir fotografie en skryf wat die korporatiewe wêreld uit my uit gewurg het, herontdek.  Laat nagte voor my ou tikmasjien en bedags met die kamera rond geloop.  Party dae het ek sommer ingery dorp toe en daar in die strate rondgeloop en foto’s geneem.  Niemand het my geken nie en dit het my niks gepla as hulle my skeef aankyk as ek foto’s van hulle neem nie.
Daarna is ek weer huis toe, net om als te verkoop.  Dit was juis toe ek die geld vir die huis in my rekening ontvang, dat ek besluit het om op die treinrit te kom.  Soos ek nou hier sit begin ‘n plan in my kop vorm. Miskien moet ek nie die trein terug vat nie.  Dalk koop ek ‘n Land Rover  en pak die pad daarmee aan. Miskien opry Botswana toe, en vandaar oor Namibië toe.  Ek het my paspoort by my en ek was lanklaas in daardie wêreld.  Dan my pad stadig terug werk Kaap toe, of as ek êrens vashaak, dan is dit ook goed.
Ek moes weer deur die nag aan die slaap geraak het.  Ek raak wakker met ‘n stywe nek van regop sit en slaap.  Ons is iewers tussen Kimberley en Pretoria.  Ek gaan soek koffie in die eetsalon.  Die kelner sê my dat ons drie en ‘n half ure van Pretoria af is.  Ek haal my selfoon uit my sak.  Daar is nog genoeg batterykrag op, en die sein lyk ook goed.  Ek skakel Johan, ‘n oud kollega van my wat nou in Pretoria bly. Hy sou my in alle geval vir koffie ontmoet het.  Hy verseker my dat die verkoopsman by “Land Rover World” maar te gretig sal wees vir so ‘n kontant transaksie en dat hy seker is dat hy kan reël dat hulle my op die stasie ontmoet met my nuwe voertuig.  Hyself sal dit egter nie kan maak nie, aangesien daar probleme by sy werk opgeduik het, en hy nou dankbaar is dat hy die guns vir my kan doen.

Toe ons op Pretoria stasie afklim voel ek amper soos iemand op die lughawe.  Daar, aan die einde van die peron  staan ‘n vrou met ‘n bordjie wat my naam op het vir my en wag.  Toe ek nader stap en myself identifiseer, stel sy haarself voor, bevestig dat sy die papierwerk by haar het,  en dat die Defender buite op my wag.  Ons gaan sit sommer in ‘n restaurantjie waar ek al die dokumente teken en die geld elektronies vir haar oorplaas.  Hoe meer ek vir haar kyk hoe meer verbeel ek my dat sy net soos die meisie van jare terug op die trein lyk.  Ek vertel haar van my planne en nooi haar grappenderwys om saam te kom.  Sy het net gelag en dit vriendelik van die hand gewys.  Ons besigheid was afgehandel, sy het opgestaan, my hand geskud en weg gestap.  Ek het haar lank agterna gekyk.  Jare terug was ek die een wat weg gestap het. Ek het nog ‘n koffie bestel en sommer net sit en dink aan die vreemde spore wat ons so maklik in mekaar se lewens trap. 

1 comment:

  1. Sjoe'n goeie "trip down memory lane" ek het dit saam met jou beleef maar net jy sal weet.

    ReplyDelete