Tuesday, November 8, 2016

Vissers van die agterbaai

Vissers van die agterbaai

Deur karoogriffel

Abel lê al van drie uur af wakker.  Hy luister na wat die wind doen.  Dit het die laaste sewe dae onophoudelik gewaai.  Reg uit die see uit.  Die branders was groot en die water vuil.  Dan help dit nie jy gaan uit nie.  As jy nog die water sou oorleef, sou jy in alle geval niks vang nie.
Hy hoor Marta diep asemhaal hier langs hom.  Hy is bly sý slaap ten minste.  Net gisteraand het sy gesê dat as daar nie môre vis inkom nie, is daar nie more-aand kos op die tafel nie.  Hy weet sy is reg. Hy kan ook nie langer in die kinders se oë kyk as hulle aan tafel sit, elk met ‘n sny bruinbrood in water geweek en suiker oor nie.  Sy kinders is gewoond aan goeie borde kos.  Meestal vis, maar steeds, dit is darem nie suiker brood nie.  Hy en Marta verstaan, maar nie die kinders nie.  Hulle wil net hê Ma moet kos voorsit.  Hy het gisteraand probeer verduidelik, maar die kinders verstaan nie van geen vangs, geen geldjie nie.
Op die oomblik is die wind stil.  Dit sê nie die water is al skoon nie, maar as die wind so hou sal hy vandag uit.  Hy, Piet en die twee Jaftha broers deel die boot.  Die boot behoort aan Meneer Delport. Hulle gaan eintlik maar namens hom uit, dan vat hy so bietjie meer as die helfte van die vangs.  Dit betaal die boot huur en die diesel.  Abel wou al vra, hoekom boot huur, maar Mnr. Delport het net laas seisoen gesê as enige iemand wil af, is daar baie wat tou staan vir sy plek op die boot.  Abel weet ook dít is waar.  Die mense wil almal graag ‘n plek op ‘n boot hê.  Dit sit kos op die tafel.
Die groot ou Big Ben horlosie op die seepkissie  langs die bed wys met sy fosfor wysers dat dit nou na vier is.  Abel staan op en gaan sit die ketel op die gasstoof.  Daar is darem nog koffie in die blik.  Hy sal maar swart en bitter vat.  Net-nou is daar nie vis nie, dan is daar darem suiker vir die kinders.  Teen die tyd dat hy van buite af inkom waar hy sy gesig onder die kraan gaan was het, staan Marta ook in die kombuis.  Hy kan deur haar pajamas sien hoe maer sy is.  Sy soengroet soos elke oggend en vra of hy uitgaan.  “Ek gaan nou die ander roep.  Ek moet gaan probeer”.  Abel drink sy koffie in stilte.  Hy sien dat Marta nie koffie gevat het nie.  Sy sit met water in haar bekkertjie.  Gewoonlik sou sy nou vir hom koffie in die fles gemaak het,  met twee dik toebroodtjies in sy trommeltjie gepak, sy dag se kos vir op die see.  Nou sien hy,  staan daar net die plastiek Coke bottle met water in.  Hy sê niks daaroor nie.  Hy weet mos.  Toe Abel groet om te loop, fluister Marta sag in sy oor, ”ek bid vir ons”.  Abel sê sag terug dat dit reg is.  Hy weet nie regtig wat anders om te sê nie.  Hy bid al vir jare dat dit moet beter gaan, maar niks.  Elke dag is maar weer ‘n stryd vir oorlewing.  Uit op die water,  waar die son jou van bo en van onder bak tot jou vel begin voel soos die bokkoms wat hulle droog. Elke dag die grootste deel van die vangs afgee.  Dit wat oorbly verdeel en dit dan probeer verkoop. Net om  genoeg geldjies te maak om die brood noodsaaklikste mee te koop.  Bid, nee hy weet nie meer nie.  Dit het nog nooit gewerk nie.  Hier is dit maar elke man vir homself.
Gelukkig bly Piet net twee huisies van hom af.  Toe hy daar kom, sit Piet op die muur en wag.  “Ek het gedink ons sal maar moet uitgaan né?” Abel groet,  en stil val hulle in die pad.  Af hawe toe.  Die Jaftha broers bly nader aan die hawe en toe hulle daar verbygaan, hou Abel reguit aan om die boot te gaan reg kry.  Piet gaan roer die broers.
Toe die eerste lig begin aanrol deur die wolke, trek die bootjie al ander kant die hawemuur.  Die water is nou seepglad en die boot loop maklik.  Abel het reeds besluit om maar tot in die agterbaai te ry en teen die rotsmuurte te gaan probeer.  Na so ‘n wind is die water onder die rotsmuur gewoonlik die skoonste.  Dit is maar gevaarlik daar, maar die kanse is beter.  As die geluk vandag oor hul bly glimlag, kom hulle dalk met ‘n paar galjoene huis toe.  Dit verkoop maklik en maak beter geld. Abel draai die boot se neus terug see toe,  maak die enjin dood en gooi anker af.  Dit is diep hier en die anker eet amper al die lyn op.  Nou wag hulle so rukkie dat die water die boot maak lê soos hy wil.  Die manne kry hul lyne reg.  Hoe meer lyne jy in die water het, hoe beter is jou kanse.  Gewoonlik word daar koffie gedrink en ‘n broodjie geeet sodra almal se lyne uit is.  Dan gesels die manne land en sand oor wat gisteraand gebeur het  en oor wat hulle vandag gaan vang.  Ook wat hulle met die geld gaan doen.  Die stories word ook altyd groter en groter.   Vroeg oggend is almal nog optimisties oor die dag en word daar groot gedroom.  Nie vandag nie.  Almal sit stil en kyk vir die water.  Niemand het koffie of broodjies nie, en die laaste sewe dae se wind het al die drome uit hul uit gewaai. 
Die son begin nou oor die kant van die water loer.  So asof hy kyk wat hulle doen.   “Jou moer man, wat kyk jy” sê Abel,  kwaad vir die water en die natuur.  Niemand anders sê iets nie, maar hulle dink maar dieselfde.   Hoekom moet die wêreld so onregverdig wees.  Hoekom moet hulle so sukkel.  Dit is nie luiheid nie, hulle werk maklik van voor sonop tot na sononder, sonder om te kla. Al wat hulle vra is dat die see vir hulle iets moet terug gee vir die dag se werk.  Nie soos Meneer Delport en baie ander soos hy wat ‘n paar uur op kantoor sit en dan elke dag ryk huistoe gaan nie.  Maar nee, as jy min het, sal jy min kry,  dit sê die Bybel ook mos.  Abel dink weer aan die gebidtery en los weer so vloek af in die water in.
Die son sit nou so halfpad op.  Seker al elf uur.  Daar het nog niks gebyt nie.  Abel kan sien dat die water so half grys lyk, maar dit is juis galjoen water.  Die manne wou al skuif, maar Abel ken die ding. Almal is nou angstig om iets te vang, en as dit nie vinnig gebeur nie, wil hulle skuif na ‘n ander kol.  Jy moet maar sit. Die see is groot en jy kan nie agter ‘n vis aan trek nie, jy moet wag dat hy na jou toe kom.  Abel werk maar spaarsaam met die water, as die son vroeg oggend al so met jou gesels sal hy ‘n man teen een uur behoorlik braai.  Niemand praat juis nie.  Dit is net  sulke enkel sinne met min woorde wat maar elke nou en dan oor die boot kom.
Dit is nou al net na twee.  Abel het een galjoen uitgehaal en Petrus Jaftha ‘n  klein hotnotsvissie. Almal se gemoedere is weer laag.  Piet wou al hê hulle moet oppak en trug gaan huis toe.  Skielik kry Piet ‘n byt en trek ‘n mooi vet galjoen uit.  Amper dubbeld so groot soos die een wat Abel vroeër gevang het.  Almal is nou opgewonde.  Binne ‘n half uur het hulle tussen die vier stuks  agtien visse uit die water gehaal.  Piet s’n bly die grootste.  Net so skielik as wat dit begin het hou die vis op byt. Teen  vyf uur besluit almal dit is tyd.  Die son hang al in die water toe hulle die hawe inry.  Van ver af sien hulle al Meneer Delport se motor staan.   Almal doen stil stil die berekening.   Hier is twintig vis aan boord. Hy gaan seker niks minder as twaalf vat nie. Dit los agt, en hulle is vier. Twee visse per man.  Abel vryf met sy hand oor sy gesig.  Hy voel die sout op hom soos die see op hom droog geword het.  Meneer Delport vat ook altyd die grootstes.   Dit beteken hy vat twee kleiner visse huis toe vir ‘n gesin van ses mense.  Martha moet dit maar weer  maak werk.
Op pad huis toe stap Abel by Ou Mevrou Neetling se huis verby.  Sy staan buite.  “Galjoen gekry Abel” vra sy.  “Ja Mevrou, ek het so twee kleintjies”.  Mevrou Neetling vra hom of hy een aan haar sal verruil. Hy wil nie, want wat eet hulle dan, maar sy is altyd vriendelik en hy stem in.  Sy vat die kleinste een van die visse by Abel en vra hom om te wag.  Toe sy terug kom gee sy hom ‘n geel winkelsak vol goed aan.  “Daar Abel, nou het ons gelyk geruil”.  Abel sê dankie sonder om te kyk en stap kop onderstebo aan huis toe.  Moedeloos.  By die huis sit hy die vis en die sak op die tafel neer, stap weer uit om onder die kraan te gaan was, waarna hy rotse toe loop.  Hy kan nie die gesin in die gesig kyk nie.  Hy het nie woorde nie.

Dit is al laat toe Abel die huis instap.  Iets ruik baie lekker.  Om die kombuis tafel sit Marta en die vier kinders vir hom en wag.  Hulle klap hande toe hy inkom.  Sy jongste dogtertjie spring op en kom val hom om die nek.  Abel verstaan eers nie, dan sien hy die oondskottel op die tafel.  In die middel  lê die galjoen, rondom hom aartappels, uie en wortels.  In elk een se bord lê daar reeds ‘n dik sny bruinbrood met goudgeel botter op.  Abel gaan stil sit.  Almal vat hande en sê dankie vir die kos.  Marta en die kinders vir hul God, Abel vir Ou Mevrou Neetling.  Hy weet.     

Monday, November 7, 2016

Duits-Wes Toere

Duits-Wes Toere

Deur karoo griffel

Dit is die derde aand vandat hy die groep op Windhoek lughawe opgetel het.  Die wêreld om hom word amper dag-helder verlig deur die volmaan wat goudgeel en swanger oor die Namibiese bosveld hang. Hulle slaap vannaand hier by Namutoni in die Etosha Nasionale park.  Môre is dit op Ruacana en dan al teen die Kunene rivier af, Wes.
Dit is windstil vanaand en die rooi vlamme van die doringhout vuur brand kiertsregop.  Die nag is so stil dat die klank van die brandende hout amper steurend is.  Bart sit so klein entjie van die vuur af op sy kampstoel aan sy pyp en suig.  Sy gedagtes is by die dag se rit en meer spesifiek by sy gaste uit Duitsland.
Bart het so amper vier jaar gelede besluit om sy eenman toer-besigheid te begin.  Hy het vir hom ‘n tweedehandse Volkswagen Syncro  gekoop en dit laat opknap na so goed soos nuut.  Toegerus met dakrak, spaarwiele en al die ander noodsaaklike vier-by-vier toerusting.  Toe op die internet begin adverteer.  Hy kry altyd sy kliënte in Windhoek en doen dan een van vier roetes, natuurlik maar die een wat die kliënt verkies.  Sy groepe is nooit meer as vier kliënte nie.  Hierdie  groep wou deur Etosha gaan en teen die Kunene af.  Dit bly ook Bart se gunsteling roete.  Saans as hulle stop, slaan hy gou kamp op, steek ‘n vuur aan en begin met die kos vir die groep.  Na ete was hy op en berei voor vir môre se ontbyt en die dag se rit.  As die kliënte uiteindelik  gaan inkruip, sit Bart nog tot laat alleen by die vuur.
Hierdie groep is anders.  Dit is ‘n getroude man en vrou en haar suster.  Hulle is almal nog jonk en maak ‘n lekker groep uit.  Die suster, Helga is maar twee en twintig en Bart moet beken, besonder mooi.  Reeds van die eerste dag af het sy dit duidelik gemaak dat sy Bart se geselskap bo die van haar swaer en sy vrou verkies.  Bart gee nie om nie, mens doen mos maar wat jy moet doen om jou kliënte gelukkig te hou.  Dit is nou eers die vierde nag van die roete en hier alleen by die vuurtjie moet Bart aan homself beken:  die witkoppie met haar groot blou oë het onder sy vel begin inkruip.  Hy geniet haar geselskap en veral die aandag wat sy aan hom gee.
Toe die vuur uitgebrand is staan hy op om sand op die kole te gooi.  Speel maar veilig.  Hy rol sy eie slaapsak, soos gewoonlik sommer langs die Syncro op die grond oop en gaan lê daarop.  Hy is moeg en die slaap oorval hom vinnig.
Hy word die volgende oggend soos gewoonlik weer net na vier wakker.  Gou word daar vuur gemaak om die koffie aan die gang te kry.  Ontbyt word eers gemaak sodra almal wakker is.  Helga is eerste uit haar tent.  Hy sien haar aangestap kom in haar kortbroekie en T-hemp.  Hy besef weer hoe mooi sy is.  Toe sy langs hom kom sit gee sy hom eers so drukkie om die nek.  Bart gaan gooi vir haar koffie in en toe hy dit aangee, raak hul hande weer.  Hulle gesels oor die dag wat voorlê en oor wat hul als gaan sien.  Helga is baie spontaan en skuif haar stoel tot reg langs hom.  Soos sy gesels raak sy heeltyd aan sy been of arm. Skielik wens Bart dat dit net hulle twee was op die toer.  Toe die ander twee uit hul tent kom, word daar goedig gespot met Bart en Helga omdat hulle soos ‘n verliefde paartjie styf om die vuur sit en klets.
Die dag loop weer goed af en almal geniet die rit.  Daar word gereeld gestop vir koffie en sommer om die groep kans te gee vir foto’s neem.  Hulle was laatmiddag al amper by hul bestemming, Kunene River Lodge, toe Bart op die ingewing van die oomblik besluit om die nag sommer op die wit riviersand langs die rivier by so natuurlike baaitjie,  deur te bring.  Terwyl hy gou tente opslaan en die vuur reg kry,  het Regard en sy vrou solank die stof van hul lyf in die rivier gaan afwas.  Helga het hom gehelp kamp maak en teen die tyd dat die ander twee terug kom, was als gereed. Bart bied die gaste iets koels uit sy minus 40 yskas aan en toe almal rustig is,  verskoon hy homself om ook te gaan was.  Hy stap so ‘n entjie van die groep af weg tot waar hy ‘n lekker diep poel in die rivier gesien het.  Hy skop sommer al sy klere uit en duik in die helder koel water in.  Toe hy opkom hoor hy ‘n geplas agter hom, Hy skrik eers, maar toe hy omkyk sien hy dat Helga hom gevolg het. Sy swem tot by hom en soos sy nader kom kan hy sien dat sy ook min swemklere aan het.  Sy kry hom om die nek beet en druk haarself styf teen hom vas.
Toe hulle heelwat later terug stap kamp toe kan hulle sien dat die ander reeds die vuur aangesteek het.  Weer word daar met hulle gespot, maar Bart geen nie om die.  Helga help hom gou om als vir die braai en die potbrood reg te kry, toe gaan sit hulle almal saam om die vuur.  Helga sit weer styf langs hom, en in haar oë kan hy sien dat sy besonder gelukkig lyk.  Dit raak ‘n lekker aand so langs die rivier en almal kuier tot laat.  Dit was so iets na twaalf toe die getroudes besluit om te gaan inkruip.  Bart en Helga het nog hout op die vuur gegooi en dit was heelwat later toe hulle ook gaan slaap het.  So sonder om dit te bespreek stap hulle vannaand saam na Helga se tent. 

Die volgende oggend het die hele kamp tot amper sewe uur geslaap.  Helga het weer met koffie en ontbyt gehelp.  Bart het so onderlangs na haar geloer en geweet, dit sal lekker wees as die meisiekind hom  vir altyd so kan help.  Hulle sal lekker in ‘n span saamwerk.  Die Syncro het mos darem nie verniet  twee voorsitplekke nie, hy sal steeds vier gaste agter kan inlaai. Daar is nog vyf dae van die toer oor en hy beoog om die Duitsertjie voor dan in ‘n Duits-Wester te verander.  Aan die manier wat sy terug glimlag, kan hy sien dit sal nie te veel harde werk kos nie.