Monday, November 7, 2016

Duits-Wes Toere

Duits-Wes Toere

Deur karoo griffel

Dit is die derde aand vandat hy die groep op Windhoek lughawe opgetel het.  Die wêreld om hom word amper dag-helder verlig deur die volmaan wat goudgeel en swanger oor die Namibiese bosveld hang. Hulle slaap vannaand hier by Namutoni in die Etosha Nasionale park.  Môre is dit op Ruacana en dan al teen die Kunene rivier af, Wes.
Dit is windstil vanaand en die rooi vlamme van die doringhout vuur brand kiertsregop.  Die nag is so stil dat die klank van die brandende hout amper steurend is.  Bart sit so klein entjie van die vuur af op sy kampstoel aan sy pyp en suig.  Sy gedagtes is by die dag se rit en meer spesifiek by sy gaste uit Duitsland.
Bart het so amper vier jaar gelede besluit om sy eenman toer-besigheid te begin.  Hy het vir hom ‘n tweedehandse Volkswagen Syncro  gekoop en dit laat opknap na so goed soos nuut.  Toegerus met dakrak, spaarwiele en al die ander noodsaaklike vier-by-vier toerusting.  Toe op die internet begin adverteer.  Hy kry altyd sy kliënte in Windhoek en doen dan een van vier roetes, natuurlik maar die een wat die kliënt verkies.  Sy groepe is nooit meer as vier kliënte nie.  Hierdie  groep wou deur Etosha gaan en teen die Kunene af.  Dit bly ook Bart se gunsteling roete.  Saans as hulle stop, slaan hy gou kamp op, steek ‘n vuur aan en begin met die kos vir die groep.  Na ete was hy op en berei voor vir môre se ontbyt en die dag se rit.  As die kliënte uiteindelik  gaan inkruip, sit Bart nog tot laat alleen by die vuur.
Hierdie groep is anders.  Dit is ‘n getroude man en vrou en haar suster.  Hulle is almal nog jonk en maak ‘n lekker groep uit.  Die suster, Helga is maar twee en twintig en Bart moet beken, besonder mooi.  Reeds van die eerste dag af het sy dit duidelik gemaak dat sy Bart se geselskap bo die van haar swaer en sy vrou verkies.  Bart gee nie om nie, mens doen mos maar wat jy moet doen om jou kliënte gelukkig te hou.  Dit is nou eers die vierde nag van die roete en hier alleen by die vuurtjie moet Bart aan homself beken:  die witkoppie met haar groot blou oë het onder sy vel begin inkruip.  Hy geniet haar geselskap en veral die aandag wat sy aan hom gee.
Toe die vuur uitgebrand is staan hy op om sand op die kole te gooi.  Speel maar veilig.  Hy rol sy eie slaapsak, soos gewoonlik sommer langs die Syncro op die grond oop en gaan lê daarop.  Hy is moeg en die slaap oorval hom vinnig.
Hy word die volgende oggend soos gewoonlik weer net na vier wakker.  Gou word daar vuur gemaak om die koffie aan die gang te kry.  Ontbyt word eers gemaak sodra almal wakker is.  Helga is eerste uit haar tent.  Hy sien haar aangestap kom in haar kortbroekie en T-hemp.  Hy besef weer hoe mooi sy is.  Toe sy langs hom kom sit gee sy hom eers so drukkie om die nek.  Bart gaan gooi vir haar koffie in en toe hy dit aangee, raak hul hande weer.  Hulle gesels oor die dag wat voorlê en oor wat hul als gaan sien.  Helga is baie spontaan en skuif haar stoel tot reg langs hom.  Soos sy gesels raak sy heeltyd aan sy been of arm. Skielik wens Bart dat dit net hulle twee was op die toer.  Toe die ander twee uit hul tent kom, word daar goedig gespot met Bart en Helga omdat hulle soos ‘n verliefde paartjie styf om die vuur sit en klets.
Die dag loop weer goed af en almal geniet die rit.  Daar word gereeld gestop vir koffie en sommer om die groep kans te gee vir foto’s neem.  Hulle was laatmiddag al amper by hul bestemming, Kunene River Lodge, toe Bart op die ingewing van die oomblik besluit om die nag sommer op die wit riviersand langs die rivier by so natuurlike baaitjie,  deur te bring.  Terwyl hy gou tente opslaan en die vuur reg kry,  het Regard en sy vrou solank die stof van hul lyf in die rivier gaan afwas.  Helga het hom gehelp kamp maak en teen die tyd dat die ander twee terug kom, was als gereed. Bart bied die gaste iets koels uit sy minus 40 yskas aan en toe almal rustig is,  verskoon hy homself om ook te gaan was.  Hy stap so ‘n entjie van die groep af weg tot waar hy ‘n lekker diep poel in die rivier gesien het.  Hy skop sommer al sy klere uit en duik in die helder koel water in.  Toe hy opkom hoor hy ‘n geplas agter hom, Hy skrik eers, maar toe hy omkyk sien hy dat Helga hom gevolg het. Sy swem tot by hom en soos sy nader kom kan hy sien dat sy ook min swemklere aan het.  Sy kry hom om die nek beet en druk haarself styf teen hom vas.
Toe hulle heelwat later terug stap kamp toe kan hulle sien dat die ander reeds die vuur aangesteek het.  Weer word daar met hulle gespot, maar Bart geen nie om die.  Helga help hom gou om als vir die braai en die potbrood reg te kry, toe gaan sit hulle almal saam om die vuur.  Helga sit weer styf langs hom, en in haar oë kan hy sien dat sy besonder gelukkig lyk.  Dit raak ‘n lekker aand so langs die rivier en almal kuier tot laat.  Dit was so iets na twaalf toe die getroudes besluit om te gaan inkruip.  Bart en Helga het nog hout op die vuur gegooi en dit was heelwat later toe hulle ook gaan slaap het.  So sonder om dit te bespreek stap hulle vannaand saam na Helga se tent. 

Die volgende oggend het die hele kamp tot amper sewe uur geslaap.  Helga het weer met koffie en ontbyt gehelp.  Bart het so onderlangs na haar geloer en geweet, dit sal lekker wees as die meisiekind hom  vir altyd so kan help.  Hulle sal lekker in ‘n span saamwerk.  Die Syncro het mos darem nie verniet  twee voorsitplekke nie, hy sal steeds vier gaste agter kan inlaai. Daar is nog vyf dae van die toer oor en hy beoog om die Duitsertjie voor dan in ‘n Duits-Wester te verander.  Aan die manier wat sy terug glimlag, kan hy sien dit sal nie te veel harde werk kos nie.

1 comment: