Monday, January 9, 2017

Verkeerde visse vang nie

Salomie lag weer hard en uitbundig oor iets wat iemand sê.  Gerber kyk so onderlangs na haar.  Sy is darem wraggies mooi.  Hoe sy en Hannes by mekaar uitgekom het weet hy nou al, maar hoe hulle by mekaar bly sal hy nooit verstaan nie.
Gerber en Hannes was saam in die weermag.  Het mekaar daar leer ken en nog altyd goed klaar gekom.  Hannes is die ernstiger een en Gerber meer impulsief en doen dinge in die oomblik.  Salomie was maar sewentien toe sy en Hannes die eerste maal kontak gemaak het.  Sy het besluit om haar goeie daad te doen en in die Hoekie vir Eensames te plaas dat sy graag met ‘n troepie op die grens wil korrespondeer.  Hannes het geantwoord en drie jaar later is hulle getroud.   Salomie  is die impulsiewe een in hul verhouding.  Hannes moet haar altyd terughou.  Hulle is nou al amper vyf jaar getroud en daar is nog steeds geen kinders nie – Hannes wil eers die huis afbetaal en finansieel sterk staan.
Hannes word vandag een en dertig.  Hy het so paar vriende genooi vir ‘n braai.  Almal sit gesellig onder die lapa en gesels terwyl die kinders en so paar van die vrouens in die swembad baljaar. Salomie staan in haar tweestuk tussen die ouens by die kroeg.  Hannes staan met iemand voor die braai en gesels.  Die een ernstig, die ander uitbindig.
Gerber kan sien dat elke slag as Salomie so lekker lag, Hannes in haar rigting kyk.  Hy is so half jaloers op haar en hou nie van die aandag wat die manne aan haar gee nie.  Salomie aan die ander kant floreer op die aandag en flirt openlik met die ouens.
Gerber het nog nie getrou nie.  Hy is die enigste losloper in die vriendegroep en die meeste van die mans staan maar vinnig nader as Gerber te veel met hul vrouens gesels.  Gerber is ‘n buitelewe mens en is altyd briun gebrand en baie goed gebou.  Dan is hy nog glad met die mond en weet altyd hoe om die regte goed te sê.  Soms voel dit vir Gerber of Hannes weet hy is so soort van verlief op Salomie.  Dat Salomie dit weet, die weet Gerber beslis.  Sy weet dit en maak ‘n punt daarvan om met hom te flirt, behalwe in groepe soos nou, dan probeer sy hom jaloers maak.  Al weet Gerbert dit,  werk dit nietemin baie goed en Salomie geniet dit vreeslik.  Hy gaan haar dit net nie vandag wys nie. Waar hy nou eenkant in een van die dekstoele lê, kan niemand sy oë sien nie.  Hy het ‘n donkerbril op.  Gerber besluit om sy oë toe te maak en dit duidelik te wys dat haar flirtasie met die ander hom nie pla nie.  Dit is mos Hannes se saak om daaroor bekommerd te word.
Salomie het duidelik agtergekom dat hy haar nie meer in die oog het nie.  Gerber kan hoor hoe sy aanmerkings maak oor die “ou man “ wat by ‘n braai lê en slaap.  Hy weet sy doen dit aspris om sy aandag te trek.  Soms voel dit vir Gerber of sy op hom ook verlief is en dat Hannes dit weet.  Maar dié sal niks sê nie, hulle is al te lank vriende.
Skielik voel Gerber hoe iemand ‘n beker vol koue water en ys op sy borskas uitgooi.  Hy vlieg op en almal bars uit van die lag.  Voor hom staan Salomie nog met die beker.  “Nou bars jy!” sê Gerber en peil op haar af.  Rats gooi sy die beker vir iemand naby haar en spring om, reguit swembad toe.  Gerber agterna.  Sy het skaars onder die water in verdwyn toe Gerber agter haar aan duik.  Hy kry haar onder die water beet en weer verbeel hy hom dat sy die een is wat hom nader trek.  Vir ‘n oomblik gee hy in aan sy gevoel vir haar en trek haar behoorlik vas teen hom.  Dit is van korte duur want hulle asem raak op en hulle moet boontoe.  Toe hul koppe deur die water breek staan almal en kyk en aanmoedig. “Vat haar vas, Gerber!  Sy wil mos, Gerber!”.   Almal lag en in die oomblik met hul gesigte so naby mekaar vra sy hier by sy oor, “was dit lekker”?   Gerber weet weer nie of sy na die natgooiery of na die gedrukkery onder die water verwys nie.  Hy het nog sy arm so liggies om haar en sy maak geen beweging om weg te kom nie.  Skielik vang Gerber se oog Hannes waar hy alleen by die braai staan.  Sy gesig wys duidelik dat hy uitgesluit en ontevrede voel.  “Kom beheer jou vrou, my vriend!” skree Gerber vir hom uit die water uit, en weer lag almal.  “Hoekom?” vra Salomie weer hier by sy oor, “is ek te veel hande vol vir jou”?  Gerber kry nie kans om te antwoord nie, maar toe sy uitklim kan hy sien hoe sy omkyk, en hy weet, sy het gehoop dat hy haar nog dophou. 
Hannes roep almal om te kom opskep, en toe almal aan tafel sit, kom Salomie tussen hulle inskuif. “Pasop, ek wil hier langs my man sit”, maar in die proses kom sit sy ook langs hom.  Terwyl Hannes die tafelgebed doen vat almal hande.  Gerber kan voel hou Salomie sy hand vashou.  Amper daarmee speel.
Die ete en die res van die middag verloop lekker en almal geniet hulself.  Soos die gaste begin vertrek, vra Salomie vir Hannes om saam met hulle te stap met die verskoning dat sy nog in swemklere is.  Dit los haar elke nou en dan alleen by hom, en sy maak weer openlik ogies in haar man se afwesigheid.  “Wat doen jy Salomie? “ vra hy haar nou pront uit.  “Wat bedoel jy?” is haar teenvraag.  “Jy speel met vuur en drie mense gaan hul vingers verbrand.  Jy weet ek hou baie van jou, dalk meer as wat ek mag.  Jy moenie die saak aanhelp as jy dit nie bedoel nie”.  “Hou jy nie daarvan nie Gerber?”vra sy en die mondjie en oë maak weer daardie klein hondjie gesiggie wat hom so maklik sag maak.  “Natuurlik hou ek daarvan, jy weet goed.  So, as dit vir jou net n speletjie is, moenie dit aanhits nie”.  “En wie sê ek speel net?”  “Ek soek nie speletjies nie Salomie, ek soek commitment.  As ek jou vat hou ek jou, gaan ons weg en begin ‘n nuwe lewe elders.  Dit is my voorwaardes.  Ek gaan Hannes nie seermaak en dit vir speletjies nie”.   Hannes kom weer aangestap en Salomie kry nie kans om te antwoord nie.
Gerber sit en kyk hoe hy sy arm om sy vrou se skouers sit en hoe sy haar liggies uit dit uit draai.  Hy sien die vraagteken in sy vriend se oë en net daar maak hy ‘n besluit.  “Hannes, vra hy, onthou jy die aanbod wat ek gekry het om in Mosambiek te gaan werk?  Wel ek het besluit om die aanbod te aanvaar.  Ek vertrek oor ‘n maand hier op.”  Hannes lyk dadelik geïnteresseerd en begin hom uitvra. Salomie luister ook na die gesprek, maar Gerber maak geen oog kontak met haar nie.  Gerber drink sy bier klaar en staan op.  “Nou ja, ou vriend, jy moet lekker verder verjaar.  Hoop Salomie gee jou nog jou geskenk!  Ek moet waai.  Daar is min tyd vir my oor”.

Gerber kan sien dat Salomie hom vol vrae aankyk maar hy maak of hy dit nie sien nie.  Hy weet ook dat hy klaar gekuier het by Hannes en sy vrou.  Salomie is die sort vrou wat nooit sal ophou flirt nie. Die man wat sy wil hê, sal altyd die een wees waarmee sy nie getroud is nie.  Hy wat Gerber is het nie lus vir die speletjie nie.  Die see is vol visse en die regte een sal wel eendag aan sy hoek byt.  Tot dan . . . wel, tyd sal maar leer.    

Sunday, January 8, 2017

In die traan op haar wang

Vir die soveelste maal in die laaste ses maande staan Christelle weer voor die groot, maar baie leë “canvas” op die esel in haar ateljee, kwas in haar hand.  Sy wil so graag dit wat nou binne haar siel lê op die doek vaspen.  Net soos al die vorige kere staan sy maar net na die doek en staar.  In plaas van die wit canvas, sien Christelle eerder ‘n spieël waarin sy die laaste paar maande van haar lewe sien afspeel.  Oor en oor herhaal gebeure hulself, oor en oor herleef sy weer die pyn.  Vergete is die kwas in haar hand.  So staan sy vir lang rukke tot sy wakker skrik uit haar gedagte-wêreld. Dan sit sy die kwas neer, gooi die canvas weer toe met die groot lapdoek, en stap kombuis toe.  Hier maak sy nou vir haar ‘n koppie tee waarmee sy op die voorstoep gaan sit om oor die water uit te staar.  Die kalmte van die see maak haar rustig.
Nou gaan haar gedagtes weer terug na die goeie vol dae wat sy en Walter saam gehad het.  Hoe hulle mekaar in Frankryk van alle plekke ontmoet het.  Sy wat saans daar as kelnerin gewerk het sodat sy bedags kan skilder, hy wat as joernalis by ‘n plaaslike koerantjie gewerk het sodat hy sy skryfwerk saans vleuels kon gee in die romantiese vreemde.  Twee Suid-Afrikaners, toevallig in dieselfde klein gallerytjie waar ‘n bekende skilder se werk uitgestal word.  Hulle is later saam daar weg om te gaan koffie drink en tot ounag te sit en gesels.  Hoe hul lewens daar ineen geloop het.  Daar waar hul liefde geblom het.  Hulle was onafskeidbaar, wou letterlik elke oomblik saam spandeer.  Toe vra Walter haar om te trou. Sonder om te aarsel het sy dadelik ja gesê.  Dit was net hulle twee in ‘n klein kerkie op die Franse platteland.  Twee vreemdelinge het as getuies geteken.
Dit het als vinnig gebeur.  Toe sy haar ouers bel om te vertel, was sy senuweeagtig.  Hulle het nog nooit eers van Walter gehoor nie.   Soos sy verwag het, was hulle vreeslik ontsteld.  Haar pa wou selfs hê dat sy dadelik moet terug kom huis toe.  Dit het ‘n hele paar weke en baie telefoon oproepe gevat voor hulle dit maar aanvaar het.
‘n Jaar later is hulle saam as Meneer en Mevrou terug huis toe.  Haar ouers het Walter toe al aanvaar. Hulle het mekaar maar deur middel van SKYPE leer ken en leer respekteer.  Walter het ‘n goeie werk by ‘n tydskrif in Pretoria gekry.  Met die geld wat hulle oorsee gespaar het, het hulle nou ‘n drie-slaapkamer huis gekoop.  Een slaapkamer is ingerig as Christelle se ateljee, die ander as Walter se studeerkamer en die ander as hul slaapkamer.  Walter het gou naam vir homself gemaak by die tydskrif en as skrywer van kortverhale.  Sy as kunstenaar.  Sy het gereeld uitstallings gehou en haar werk het goed verkoop.  Toe het Walter aan sy boek begin werk.  Dit het meer as ‘n jaar geneem waarin hy nagte om in sy studeerkamer gewerk het.
Hul verhouding het steeds gegroei en hulle was nader aan mekaar as ooit.  Toe die boek klaar was, het ‘n uitgewer dit dadelik opgeraap.  Dit was ‘n reuse sukses.  Die boek was vir meer as vyf maande eerste op die top drie lys in die land.  Die uitgewer moes herdruk en weer druk om in die aanvraag na die boek te voldoen.  Die inkomste uit die boek was meer as wat hulle ooit van kon droom.  Walter het sy werk by die tydskrif bedank en hul huis met meubels en al verkoop.  Hulle het hulself toe hier aan die weskus in St. Helena Baai kom vestig.  Hulle het self die huisuitleg beplan en toe laat bou.  Twee slaapkamers, badkamer, kombuis, leefkamer en een groot ateljee met kaggel en groot vensters wat reg op die see uitkyk.   Saam-saam het hulle by al die tweedehandse en antieke winkels omgery op soek na die perfekte meubelstukke vir hul droom huis.  Hulle het die ateljee gedeel, omdat hulle dan meer tyd bymekaar was.  Sy met haar verf- en hy met sy skryfwerk.  Oor die volgende drie jaar het daar nog twee blitsverkopers gevolg.  Christelle se kuns het ook beter verkoop as ooit.  Hulle was baie gelukkig saam en finansieel sterk.
Terwyl Christelle so sit en terugdink het, het die weer gedraai.  Die swaar wolke kom uit die see uit aangerol en die wind het opgesteek. Die see is nou donker en die branders sommer groot.  In teenstelling met die oggend se mooi weer, skep dit nou ‘n somber prentjie.  Dit het ook Christelle se gemoed gedraai.  Sy onthou weer die oproep van die uitgewer – die groot geleentheid.  Walter moes stad toe om ‘n boek tekening by Stellenbosch se Woordfees te gaan hou.  Dit is goed vir verkope het die uitgewer gesê.  Christelle het nog voorgestel  dat hy die vorige middag ry, maar Walter wou nie.  Hy is vroeg die volgende oggend daar weg.  Sy het hom nog gemaan om versigtig te ry.  Hulle weet albei hoe gevaarlik die Weskuspad so vroeg oggend kan wees. Mistigheid wat veroorsaak dat jy nie verby jou motor se neus kan sien nie.
Toe die telefoon twee ure later lui, was sy baie verbaas.  Kan dit Walter wees wat al by sy bestemming aangekom het?  Dan het hy mos te vinnig gery.  Sy was sommer vies toe sy antwoord.  Maar dit was nie Walter nie.  Dit sal nooit weer Walter wees nie.  Kop-aan-kop botsing in die mis het sy lewe geneem. Christelle was stukkend.  Haar ouers wou hê dat sy na die begrafnis vir eers by hulle kom bly.  Sy is dadelik alleen terug na haar huis toe.  Sy wou by haar en Walter se huis wees, tussen hulle goed.  Die bekende goed wat haar aan Walter laat dink.  Dit is nou al ses maande gelede.
Die reën het nou begin val, en Christelle staan op en stap na binne.  Sy maak die deur veilig toe teen die storm.  In die ateljee sien sy dat die wind die doek waarmee sy die canvas toegegooi het, afgewaai het.

Sy staan weer voor die canvas op die esel.  ‘n Traan rol oor haar wang.  Sy sien dit in die refleksie in die venster wat nou met die lig van binne soos ‘n spieël lyk.  Skielik stap sy na die kwaste toe kry haar verf uit en begin verwoed werk.  Toe sy amper agt ure later van die canvas af terug staan, kyk sy vol vrede na die skildery voor haar.  Dit is die lyn van ‘n vroue wang, met die swanger traan wat daarteen afrol.  Uit die traan kyk die bekende vriendelike gesig van Walter na haar terug.  Die glimlag in die oë verseker haar dat als nou beter sal gaan.  Dat sy klaar gerou het en dat sy maar net die mooi van hul lewe saam hoef te onthou.