Monday, June 18, 2018

Knorpot


Deur Karoo Griffel

Die vlamme uit die brandput wat as die Van Asse se buite braai dien, brand hoog en helder.  Daar is ‘n gesellige atmosfeer  wat oor die groep vriende hang.  Die doel van die ronde voete-vuur is dat almal in ‘n sirkel sit en dit een groep uitmaak, maar soos altyd het afparing klaar plaasgevind en sit mense by diegene waarmee hulle meer in gemeen het en dus is daar weer meer as een gesprek rondom die vuur aan die gang.  Die helderrooi vlamme gooi  skadu’s  van die mense na buite die ligkring.  Hoewel  Andries  omring is van geselsende mense, is sy gedagtes nie hier nie.  Die skadu’s  lyk vir hom soos die animasie deel van die musiekfilm van Pienk Floyd:  “The Wall”.  Langnek mense met lang arms wat vloeiend saam met die maat van die “gesels” beweeg.   Die oomblik toe hy die vergelyking, in sy kop gemaak het tussen die skadu’s en die film, het hy opeens besef hoe min hy met ander in gemeen het.   Selfs in ‘n groot groep soos hierdie.  Niemand anders sou die vergelyking kon tref nie.  Hulle onthou of ken seker nie eens die musiek nie.
Andries kyk weer na die groep, en dit is duidelik hoe dié soort afparing werk.  Elkeen sit by sy gelykes soos wat hulle hulself in die sosiale stand van die dorp sien.  Uiteenlopende gesprekke:  die mans praat altyd óf oor sport óf oor hul eie, “ nie altyd so goed ingligte”,  opinie van die politiek,  terwyl die vroue oor kinders, skool of kindersport gesels.  Dan is daar natuurlik altyd die standard porsie skinder oor iemand.  Gewoonlik ook  sonder om al die feite te ken.   Daar word wel elke nou en dan iets van die een kant van die vuur na die anderkant  aan iemand gesê.   Daar sal terug geantwoord word en daar sal ‘n ligte geskerts ontstaan, wat vinnig weer opdroog en die groepies gaan weer aan met hul geslote gesprekke.   As jy fyn luister na dit wat so oor die vuur heen gesê word,  kan jy meestal die ligte angel raak hoor wat aanleiding tot die woorde gegee het, dat dit meestal  iets was wat die een groep oor iemand in die ander groep gesê het, en dit dan gebruik is om die hele geselskap daarvan bewus te maak. Die Engelse spreekwoord, “many a true word is spoken in jest” kom by Andries op.
Andries maak homself gewoonlik nie deel van die gesprekke nie.  Hy luister maar met so halwe oor na wat gesê word.  Hy sit eerder met sy eie gedagtes.  Hy hoor elke nou en dan sy naam, wat lyk asof iemand hom in die gesprek wil insluit.  Dan kyk hy maar op, lig sy bier en glimlag.  Gewoonlik sal hy dan iets niksseggends sê soos:  “ Ja, dit is maar die lewe né!”  Dan word hy  weer vir so rukkie  uitgelos. Hy besef skielik dat dié soort samekomste en geselsies hom eerder irriteer.  Dan wonder hy hoekom hy nog na dié soort goed toe genooi word?  Of nog beter, hoekom hy dit nog aanvaar.
Hy fokus weer op die animasie karakters  wat die vlamme aan die buitekant van die geselskapskring gooi.  In sy verbeelding is hulle nou die gaste. Net soos in die film altyd gereed  om sy lang nek soos die van ‘n “praying mantis”,  na die skadukarakter  langs hom te draai in ‘n doodspel gelyk aan die parings-aksie van die mantis.  Andries is in sy  gedagtewêreld vasgevang  dat hy nie agterkom hoe die geselskap rondom die vuur stil raak nie.  Eers toe hy die gasvrou, Chané, se skerp stem hoor, let hy ook die laatkommer tot die braai op waarna almal nou sit en kyk.   Chané  het intussen opgespring en stap nou met oop arms na die vroutjie toe.  “ Hallo Petro!  Ek het begin dink ons gaan jou nie meer vannaand sien nie”.  Die nuwe aankomeling antwoord haar sag terug en Andries kan nie hoor wat sy sê nie.  Chané vat haar egter aan die arm en stap met haar tot so na as moontlik aan die middle van die groep.  “Verskoon tog almal, kan ek julle voorstel aan Petro, my nuwe kollega, en  Petro, hierdie, sê sy terwyl sy met haar hand na almal rondom haar wys, is ons vriendegroep.  Jy sal hulle maar een-een so deur die loop van die aand beter leer ken.  Wat drink jy?”  vra sy en lei Petro na die kroeg.  Andries het die heel tyd na haar sit en kyk en kyk haar dan ook nou agterna.  Sy is seker so middel-dertig as hy moet raai. Lang ligte-rooi hare en goed gebou.         
Andries vind dit nou amusant om te sien hoe Petro haar duidelik teen haar sin deur Chané  laat rondlei van die een groep na die ander.  Dan skielik as iemand haar naam roep,  los sy Petro net so om eers aan die vriendin aandag te gaan gee.  Petro staan nou alleen, minder as twee tree van Andries  af, en aan haar uitdrukking kan hy sien dat sy nie beïndruk is met hoe sy soos ‘n warm patat gelos is nie.  Hy besef dat die vrou nou in die middel van ‘n klomp mense staan wat sy glad nie ken nie, en wat in alle geval almal weer met hul eie gesprekke aan die gang is.  “Hallo Petro”, sê hy nou hard genoeg vir haar om te hoor.  Hy trek die stoel naaste aan hom met sy voet nader en beduie daarna.  “Kom sit.  Dit lyk asof Chané nie onthou het om jou aan my voor te stel nie.”  Nou staan hy op, steek sy hand na haar uit en stel homself voor.  “ Andries.  Kom sit”.  “Petronella.  Petronella de Kock”, sê die vrou en neem sy hand. Toe hulle sit vra Andries, ” Ek dag Chané  sê jou naam is Petro?”.  ”Sy het, maar my volledige naam is Petronella.  Ek weet nie hoekom almal dit altyd wil afkort nie”.   “Seker maar omdat sy bang is jy dra jou dood aan so swaar naam.  Ek meen, kyk hoe klein is jy.”  Andries kan sien dat sy glimlag.  Dan verduidelik sy:  ”My pa het my naam gekies, en hy is groot oor Afrikana.  Hy glo mens moet jou kinders ordentlike Afrikaanse name gee.  Verder glo hy jy gebruik die naam op jou doopseël.”  Waar sy nou langs hom sit, kyk sy hom vas in die oë.  “En jy is Andries . . . ? ”.   Andries voel of hy kan uitbars van die lag.  Die ironie is net te veel.  “Wel jy weet ek is Andries en as jy nou lag is die gort gaar.  Ek heet Andries Pretorius. Gmf, Afrikana!”  Petronella se klokhelder lag styg bo die geselskap om die vuur uit.  Almal is skielik weer stil soos toe sy ingekom het, en al die oë is op hulle.  Dit het lanklaas in die groep gebeur dat Andries iets sê wat iemand so kan laat lag. Daar kom weer die onmiddellike aanmerkings uit verskillende oorde na hulle toe.  Theuns, die prokureur van die dorp laat so onderlangs hoor:  ”Stadig Andries, ons wil haar ook nog leer ken.”  Andries lig weer sy glas vir die mense, glimlag en laat iets hoor wat klink soos:  “Dis die antwoord.”   Dan rig hy weer sy aandag op Pertonella.  Hy kan sien dat Petronella ongemaklik is met almal se aandag op hulle.  Gelukkig is die groep so op hulself gefokus dat hulle onmiddellik weer in hul eie gesprekke verdiep raak.  Andries kan egter sien hoe baie van die manne nou onderlangs met meer aandag na Petronella kyk.  Dit is Pertonella wat eerste praat.” ‘Skuus Andries, maar jy moet beken dit was nogal snaaks.  Ek kon nie help nie.”  Sy glimlag weer vir hom en hy kan voel dat die atmosfeer tussen hulle weer herstel het.   Andries glimlag ook nou opreg vir haar.  “Jy is reg, dit klink of ons twee uit ‘n Voortrekker storie kom.”  Dié slag lag albei.  Net sagter om nie weer almal se aandag op hulle te vestig nie.
 Sommer gou  gesels die twee heel onderhoudend.  Andries leer dat sy , soos Chané, ‘n kopie-leser is by dieselfde  uitgewersfirma in die stad, en dat sy haar werk oor die internet ontvang en weer so terug stuur.  Daarom dat sy nou in die klein dorpie kan woon.  Sy het haar graad in BA Tale en later joernalistiek in Pretoria  verwerf en daarna Kaap toe verhuis.  Nou woon sy hier.  Op sy beurt vertel Andries dat hy al jare hier woon.  Hy skryf kortverhale en gedigte.  As stokperdjie doen hy houtwerk en ander handwerk.  So iets van als om die pot aan die kook te hou.
So deur die loop van die aand het iemand borde in hul hande gesit, klaar opgeskep.  Andries is gewoond daaraan.  By elke braai sorg iemand se vrou so ongemerk vir hom.  Andries het vir hul elkeen nog ‘n bier gaan haal.  Hulle het vir mekaar dinge oor hulself en hul lewens vertel wat normaalweg nie sommer so oorvertel sal word nie.  Eers toe hulle bewus word van gaste wat begin vertrek het Andries op sy horlosie gekyk.  Dit was al na twaalf.  Hulle het beide verbaas reageer oor die aand wat so vinnig verby gegaan het.  Andries het lank laas ‘n aand so geniet.  Hy was half ontevrede dat hy moet huis toe gaan. Tog staan hy ook maar op en bied haar sy hand aan om haar op te trek.  Sy vat dit gemaklik en toe sy opkom was sy so effe nader aan hom as wat beide bedoel het.  Andries hou haar hand vas, en vra haar nou direk:  ”Gaan ons môre koffie drink?”  Sy het geglimlag en haar hele uitdrukking het ja gesê.  Op pad terug huis toe het Andries weer aan haar gedink.  Haar eerlike opregtheid was so vars.  Die manier waarop sy oor iets praat sonder om te oordeel of te na te kom.  Haar glimlag.  Dan amper net so belangrik, sy is opreg Afrikaans.  Nou glimlag hy breed  so alleen in sy trokkie.  Gmf, wonder wat haar “Afrikana” pa te sê sal hê oor Petronella Pretorius?

1 comment: